Tydens 'n sitting van die behuisingskomitee gister in die Gautengse Wetgewer, het skokkende nuus die komitee geruk nadat daar verslag gedoen is dat die departement van behuising in Gauteng onderspandeer het met die enorme bedrag van R980 miljoen tydens die 2015/16 boekjaar.
Die VF Plus se LPW in die Gautengse Wetgewer, mnr. Philip van Staden, het tydens hierdie sitting hewig gereageer op hierdie ontstellende nuus. Hy het die komitee daarop gewys dat daar reeds 'n enorme behuisingskrisis in Gauteng bestaan en dat hierdie inligting eintlik die groot rede vir die agterstand in Gauteng is.
"Voorsitter nou verstaan ons eintlik wat aan die gang is in hierdie provinsie. Dit kan en mag nie geduld word nie. Terwyl miljoene mense in Gauteng nie huise het om in te woon nie en terwyl daar jaar na jaar deur die ANC in Gauteng aangekondig word dat die behuisingskrisis voor 2019 heeltemal opgelos gaan wees, wat die VF Plus se vermoede van 2015 bevestig het dat dit nie gaan plaasvind nie, is die departement nogtans so laks om hierdie enorme bedrag te onderspandeer.”
"Dit is duidelik dat hierdie departement van behuising glad nie presteer nie. Nie net onderspandeer die departement nie, maar daar word kontrakteurs aangestel wat nie ordentlike werk kan lewer nie en dit is hoekom ons moet hoor dat huise wat wel gebou word uitmekaarval," het Van Staden gesê.
Die VF Plus is van mening dat die komitee nou behoorlik sambok moet inlê onder die nuwe LUR, Paul Mashatile en sy betrokke departement. Hierdie skokkende nuus het gesorg dat die regerende party se lede op die komitee ook hewig hieroor uitgevaar het.
"Die provinsie brand en die departement doen nie hulle werk nie! Dit is totaal en al onaanvaarbaar en hierdie komitee moet die LUR hiervoor verantwoordelik hou. Al is hy 'n nuwe LUR moet hy kom verduidelik wat hier aangaan."
Die VF Plus gaan hierdie saak dringend met die premier opneem.
Kontaknommers: 084 015 4722 of 011-498 5477