Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, is te blameer vir die huidige vlaag van opstande regoor Gauteng by skole en universiteite waar oproeriges nie net soos die afgelope Woensdag in die weste van Pretoria betoog oor swak dienslewering nie, maar ook om Afrikaans uit onderwysinstellings te verwyder.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, sê in reaksie op die jongste vlaag van betogings wat Pretoria die week geskud het, dat die LUR sedert verlede jaar gevaarlike uitsprake in die Gautengse Wetgewer gemaak het oor Afrikaanse skole. Van sy uitsprake is tydens debatte selfs deur die EFF ondersteun wat hom hard toegejuig het. Die LUR het ook by sekere skole in die provinsie erg ingemeng by die werksaamhede van bestuursliggame.
Van Staden sê dat Lesufi hierdie saadjie geplant het en dat daar nou chaos heers. Die VF Plus is van mening dat die LUR net wilde uitsprake maak om 'n politieke naam vir hom binne in die ANC te maak, maar hy besef nie wat se skade en opswepery daarmee gepaard gaan nie.
"Dit het nogal vreemd voorgekom dat Lesufi nie self betrokke was by die ooreenkoms vir ‘n vredesplan vir Tuks verlede week tussen die ANC, SAKP en AfriForum nie, maar dat die ANC eerder die voormalige LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, mnr. Jacob Mamabolo, gestuur het om dit by te woon."
Die VF Plus doen 'n beroep op die premier van Gauteng, mnr. David Makhura, om sy wilde LUR van onderwys in toom te hou en dat die LUR hom eerder op belangrike sake in sy departement toespits.
"In hierdie uiters gespanne tyd in ons land het ons nie sulke opswepery van 'n ANC-LUR nodig nie. Dit veroorsaak meer skade en verdeeldheid as nog ooit vantevore en stel onskuldige mense se lewens in gevaar weens opstande wat weens haat plaasvind.”
Tel: 0840154722 of 011-498 5477