fbpx
Vryheidsfront Plus

Gautengse aansuiweringsbegroting: ANC-regering maak weer vals beloftes rakende e-tol

Die VF Plus is nie verbaas dat die Gautengse ANC-regering weereens geen vaste onderneming kon gee oor die finale afskaffing van die e-tolstelsel nie en maar net weer sy valse beloftes herhaal het.

Met die voorlegging van die provinsie se aansuiweringsbegroting, het die LUR vir finansies, Jacob Mamabolo, aan die hand van die e-tolkwessie gewys hoe benard die provinsie se finansiële sake werklik is en hoe swak die ANC-regering se ekonomiese planne is.

Mamabolo het onderneem dat die finale planne om die R12,9 miljard, wat 30% van die e-tolskuld behels, te betaal teen einde Desember 2023 aan die nasionale tesourie te verskaf.

Dit is egter ironies gegewe dat die premier, Panyaza Lesufi, verlede jaar hierdie tyd belowe het dat e-tol teen 2022 afgeskaf sal wees.

Die realiteit is egter dat e-tol steeds ten volle funksioneer en dat rekeninge steeds uitgestuur word aan padgebruikers.

Mamabolo se plan om die e-tolskuld te betaal deur die provinsie se inkomste te verhoog met die skep van ʼn provinsiale staatsbank en farmaseutiese maatskappy, is lagwekkend gegewe die ANC se wanbestuur en vernietiging van talle staatsondernemings soos die Landbank, Poskantoor en Transnet.

Dis weereens baie duidelik dat die ANC nie sy beloftes om die e-tol af te skaf kan nakom nie en dat dit te doen het met ‘n provinsiale ekonomie wat onder die ANC vernietig is. Geen dagdrome oor eie provinsiale banke en farmaseutiese maatskappye sal die provinsie se ekonomie omdraai nie.

Lesufi kon in sy termyn as LUR vir onderwys nie eers basiese doelwitte soos die bou van meer skole en die onderhoud van skoolinfrastruktuur behoorlik doen nie.

Die Life Esidimeni-tragedie kon ook verhoed gewees het met behoorlike bestuur.

Dit blyk dat Lesufi die begrotings van welsynsorganisasies stelselmatig sny en herkanaliseer na sy eie projekte soos die indiensneming van talle jongmense in onvolhoubare poste.

Welsynsorganisasies kla by die VF Plus dat die Gautengse regering dit bykans onmoontlik maak om aansoek te doen om hulp en dat daar ʼn dryfkrag is om net ingekontrakteerde organisasies behoorlik te befonds.

Die Gautengse ekonomie kry ook geen nuwe beleggings vanuit die buiteland nie en dit blyk selfs dat gevestigde ondernemings, soos Volkswagen, begin dreig om aan Suid-Afrika te onttrek. Dit sal die ekonomie van Gauteng en sy vervaardigingsektor baie negatief raak.

Die enigste manier om Gauteng uit sy ekonomiese moeras te red, is om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ʼn koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.

Saam kan ons Gauteng herstel en bou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.