Die VF Plus het vandag tydens ʼn raadsvergadering in die ANC-beheerde Matlosana-plaaslike munisipaliteit, sterk kapsie gemaak teen die munisipaliteit se voorneme om 1 042 nuwe munisipale poste te skep en te vul.
Die aanstel van ʼn verdere 1 042 werknemers teen meer as R200 miljoen per jaar in die reeds beleërde Matlosana, sal bloot die finale bankrotskap van die munisipaliteit verseker.
Die ANC-beheerde raad het die voorstel goedgekeur met 30 nuwe poste wat onmiddellik gevul sal word, en die res wat vanaf 2024 geadverteer sal word.
Die VF Plus het uitgewys dat die blote oorweging van hierdie aanstellings met die huidige finansiële stand van die munisipaliteit uiters onverantwoordelik is.
Matlosana funksioneer reeds met ʼn onbefondsde begroting en skuld miljarde rand aan onder meer Eskom en Midvaalwater. Dienslewering verval hand oor hand en dit is definitief nie weens enige personeeltekorte in die munisipaliteit nie.
Hierdie siniese ANC-poging om ten alle koste stemme met inwoners se belastinggeld te koop, dui op sy desperaatheid om aan die mag te klou ten einde die kaders se toegang tot openbare fondse te verseker.
Die enigste manier om Matlosana van finale finansiële rampspoed te red is deur te registreer om te stem om van die ANC ontslae te raak.
Dit is noodsaaklik dat die ANC vervang word met ʼn bevoegde koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.
Saam kan ons Suid-Afrika herstel en bou.