Die VF Plus verwelkom die ingryping van die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Lebogang Maile, by die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) na ‘n onderhandelingsvergadering tussen sukkelende munisipaliteite en Eskom.
‘n Nuwe afbetalingsooreenkoms is tussen die Emfuleni-munisipaliteit en Eskom gesluit vir die vereffening van die munisipaliteit se agterstallige kragskuld van R1,8 miljard. Die munisipaliteit het gister ‘n bedrag van R50 miljoen oorbetaal en onderneem om R183 miljoen per maand aan Eskom te betaal totdat die agterstallige skuld gedelg is.
Dit volg nadat Eskom op die munisipaliteit se roerende bates beslag gelê het oor die nie-nakoming van die vorige afbetalingsooreenkoms.
Elf ander munisipaliteite in Gauteng, waaronder Merafong (Carletonville, Fochville, Wedela) en Rand West (Randfontein, Westonaria), was ook by die samesprekings betrokke. Die Merafong-munisipaliteit skuld R377 miljoen aan Eskom en Rand West R355 miljoen.
Die munisipaliteite belowe telkens om hul agterstallige skuld aan Eskom te betaal, maar versuim dan om die afbetalingsooreenkomste na te kom.
Die VF Plus hou Maile verantwoordelik vir die feit dat die Emfuleni-munisipaliteit so diep in die skuld beland het en dienslewering aan inwoners belemmer is.
Maile en sy voorgangers moes vroeër al die betrokke munisipaliteite se munisipale bestuurders tot verantwoording geroep het omdat hulle volgens munisipale finansiële regulasies onderpresteer. Maile het na afloop van die vergadering egter bevestig dat geen munisipale bestuurders afgedank word nie.
Hierdie is weereens ‘n bewys hoe die ANC-regering se wanbestuur plaaslike ekonomieë vernietig en inwoners se reg tot dienslewering benadeel.
Die VF Plus sal nie skroom om korrupsie, wanbestuur en onbevoegdheid van amptenare in bestuursposte uit te wys tot voordeel van die inwoners van Gauteng nie.
Kontaknommer: 071 604 9498