Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gauteng 2021/22-begroting: Blokkasie van voertuiglisensies weens agterstallige e-tolskulde kan tot ‘n fiskale ineenstorting in Gauteng lei

Die VF Plus is oortuig daarvan dat die blokkasie van voertuiglisensies weens agterstallige e-tolskulde tot ‘n fiskale ineenstorting in Gauteng kan lei.

Die VF Plus is met reg baie skepties oor die provinsiale ANC-regering se planne om inkomste te verhoog vir sy Covid-19-ekonomiese omdraaiplan soos vandag tydens die voorlegging van die provinsie se 2020/2021-begroting uitgespel is.

Die ANC-regering se plan vir verhoogde inkomste maak staat daarop om onder meer meer inkomste te genereer deur voertuiglisensies, maar neem glad nie in ag dat beplande Aarto-regulasies in die toekoms sal veroorsaak dat voertuiglisensies geblok sal word waar voertuigeienaars agterstallige e-tolskulde het nie.

Aangesien verreweg die meeste padgebruikers die e-tolstelsel al vir jare boikot, sal die blokkering van lisensies enorme afmetings aanneem en sal die uitneem van lisensies gevolglik dramaties afneem en so ook enige inkomste vir die provinsiale regering.

Daar is geen twyfel nie dat die Gautengse provinsiale regering dringend daaraan sal moet aandag gee om die e-tolstelsel tot ‘n einde te bring aangesien dit ‘n fiskale ineenstorting in die vooruitsig stel.

Die ander bronne van inkomste vir die provinsie, naamlik dobbelbelastings, pasiëntfooie en rente verdien op tesourie-beleggings, sal nie kan opmaak vir die verlies nie.

Daarby het die provinsiale regering nie veel grondwetlike spasie om belastings uit te brei nie en sal hy dus afhanklik wees van hulp van die nasionale regering. Die nasionale tesourie het egter erken dat sy geld op is.

Die VF Plus gaan dus druk plaas op die Gautengse ANC-regering om ‘n dispuut te verklaar met die nasionale regering in terme van die Interregeringsverhoudinge Raamwerkwet. Indien die dispuutproses nie sou slaag nie, sal die VF Plus eis dat die provinsiale regering hof toe gaan om die e-tolstelsel daar tot ‘n einde te bring.

Tot dusver het die Gautengse ANC-regering se pleidooie teenoor die nasionale regering op dowe ore geval.

Gegewe die feit dat Gauteng se bruto binnelandse produk in 2020 met R80,9 miljard gekrimp het met skrikwekkende ekonomiese gevolge in die vorm van werkloosheid, hongersnood en al die gepaardgaande maatskaplike probleme, sal die e-tolstelsel sorg vir die finale vernietiging van die ekonomie in Gauteng.

Die enigste pad vorentoe is nou dat die provinsiale ANC-regering die e-tolstelsel, wat soos ‘n kanker om die vervoerare van Gauteng lê, af te skaf, ‘n hulpfonds daar te stel saam met die groot ondernemings in die privaatsektor om klein ondernemings te red ongeag velkleur, meer vryhede te beding vir die spesiale ekonomiese sones in die vorm van belastingvoordele en verminderde arbeidsregulasies, en om korrupsie met hand en tand uit te roei.

Dit blyk egter dat die ANC in die provinsie eerder besig is om al slapende in ‘n ekonomiese depressie en rewolusionêre omgewing in te stap.

Die VF Plus sal ter wille van die inwoners van Gauteng hard stry om die provinsie hiervan te red.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.