Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se uiters swak halfjaar-begrotingsverslag wat aan die raad voorgelê is, is die direkte gevolg van die ANC se wanbestuur en gebrek aan politieke wil om behoorlike dienslewering aan inwoners te lewer.
In die verslag word redes vir die onderprestasie van sommige sleutelaanwysers toegeskryf aan die vertragings in voorsieningsprosesse.
Dit het bygedra tot die gebrek aan die implementering van infrastruktuur- en openbarewerke-projekte.
Diensverskaffers wat nie betaal word nie, belemmer steeds dienslewering.
'n Gebrek aan masjinerie, voertuie, materiaal en ander hulpbronne, vorm ook deel van sleuteluitdagings wat dienslewering verder kniehalter.
Die onderbesteding van fondse sal in die komende finansiële jaar lei tot 'n vermindering van die provinsiale finansiële toekenning.
Die VF Plus verwag dat die toekenning met meer as die helfte van die huidige toekenning besnoei sal word.
Die rede daarvoor is diensverskaffers en kontrakteurs wat nie betaal word nie.
Kontrakteurs moes hul produksietyd en dienste drasties verminder weens fakture wat maande neem om betaal te word.
Die munisipaliteit se prestasie het in Desember ernstig gedaal weens Eskom se beslaglegging van die munisipaliteit se roerende bates en bevriesing van sy bankrekening.
Sowat 50% van die munisipaliteit se diensleweringsvoertuie is in die proses aangeheg.
Die munisipaliteit het ook geen werkbare plan hoe om Eskom se uitstaande elektrisiteitsrekening van R6,2 miljard en Randwater se uitstaande waterrekening van R1,2 miljard te betaal nie.
Grootmaat elektrisiteitverlies beloop 23% per maand en grootmaat waterverliese 70%.
Vullisverwydering het met 20% gedaal. In sommige gebiede word vullis een keer in nege weke verwyder.
Die installering en vervanging van watermeters kon nie gefinansier word nie.
Die agterstand om bouinspekteurs aan te stel het gelei tot ‘n toename van onwettige strukture.
Intussen vloei riool steeds in die strate van Emfuleni, deur skole en parke.
Die VF Plus is nie verbaas oor die swak begrotingsverslag nie.
Die party het by verskeie geleenthede die munisipaliteit hierteen gewaarsku. Selfs besoeke van die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, kon die munisipaliteit nie in beweging bring nie.
Slegs ‘n nuwe bevoegde regering kan die munisipaliteit uit die moeilikheid kry. Inwoners van Emfuleni verdien beter as die ANC.