Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se topbestuur moet verantwoordelik gehou word vir die ongerief en verliese van duisende huishoudings wat geen krag het nie sedert 7 000 slim-elektrisiteitsmeters van lyn is.
Die situasie kan toegeskryf aan wanbestuur, swak beplanning en die verkeerde tenderbesluite wat onder druk deur die munisipaliteit se topbestuur geneem is.
Die Ouditeur-Generaal (OG) het reeds in 2016, 2017 en 2018 die slimmeter-kontrak as onreëlmatig uitgewys. Die bevindings soos deur die OG aangedui, is deur Emfuleni se topbestuur geïgnoreer en daar was geen dringendheid om ‘n dreigende krisis af te weer nie.
Die Vryheidsfront Plus en ‘n groep inwoners het reeds in 2016 vertoë gerig om die installering van slimmeters in sekere gebiede te probeer verhinder. Die kontrakteur, BXC, het sekere verpligte prosesse tydens installering nie nagekom nie.
Die munisipaliteit het ook nie ‘n proses van openbare deelname gevolg nie en die meters is op die inwoners afgedwing.
In die begin van verlede jaar het die raad besluit om die kontrak te hersien. Een van die redes was die onregverdige verdeling van geld. BXC het 80 sent vir elke rand ontvang en Emfuleni 20 slegs sent tot nadeel van die munisipaliteit. BXC het hom tot die hof gewend en ‘n interdik bekom wat Emfuleni verhinder het om nog meters te installeer.
In November 2018 het Emfuleni die hof oortuig dat die kontrak onreëlmatig toegeken is. Die hof het bevind dat die Emfuleni-munisipaliteit BCX-kontrakteurs ’n som van R23 miljoen moet betaal om die kontrak voortydig te beëindig.
BCX het in Februarie vanjaar R11 miljoen van Emfuleni geëis. Die stadsraad het nie oor die fondse beskik nie en ’n betalingsooreenkoms kon ook nie bereik word nie. Op 6 Augustus 2019 het BCX alle slimmeters van lyn afgehaal en verbruikers, huishoudings en besighede sonder elektrisiteit gelaat.
Totale chaos het vir ’n hele week geheers en die raad was verplig om die meters te oorbrug om elektrisiteitstoevoer te herstel. Hierdie besluit is nie goed deurdink nie en kan die dorp in die toekoms in verdere finansiële chaos dompel.
Sowat 40 elektrisiëns is nodig om so ’n oorbruggingsprojek suksesvol uit te voer. Emfuleni het slegs twee gekwalifiseerde persone en dit gaan maande neem om al 7 000 te oorbrug.
Die Vryheidsfront Plus gaan deurlopende druk toepas op die munisipale bestuurder en finansiële hoofbeampte om die probleem spoedig en suksesvol op te los.
Kontaknommer: 076 616 2124