Die VF Plus is bekommerd dat die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) ‘n erger knou toegedien gaan word nadat die munisipaliteit se burgemeester, mnr. Jacob Khawe, die afgelope naweek tydens die ANC in Gauteng se leiersverkiesing, as die ANC se nuwe provinsiale sekretaris verkies is.
Khawe is in November verlede jaar aangewys as die nuwe burgemeester van Emfuleni om sake in hierdie munisipaliteit reg te ruk terwyl dit onder provinsiale administrasie geplaas is. Die VF Plus glo dat Khawe nie meer by sy werksaamhede as burgemeester gaan uitkom nie aangesien die pos van provinsiale sekretaris van enige party veeleisend is.
Die VF Plus glo vas dat die inwoners van Emfuleni weereens gebuk sal moet gaan onder ANC-partypolitiek wat bo die belange van die belastingbetaler in die munisipaliteit gestel gaan word en dat daar nie veel meer aandag aan die sukkelende Emfuleni-munisipaliteit geskenk gaan word nie.
Khawe is juis in hierdie amp in Emfuleni aangestel omdat hy nie werklik by enige ander strukture betrokke was nie en dus sy volle aandag aan Emfuleni en sy probleme kon skenk.
Die prentjie het nou verander na die afgelope naweek se provinsiale verkiesing en die premier van Gauteng, mnr. David Makhura, sal die eerbare stap moet neem om ‘n nuwe burgemeester vir die Emfuleni- gebied aan te stel. Indien nie, gaan die administrasie-proses van die Gautengse regering in die wiele gery word en gaan daar dadels kom van ‘n proses deur die provinsiale regering om Emfuleni weer lewensvatbaar te maak en van ondergang te red.
Jacob Khawe sal dus ‘n keuse tussen sy ampte moet maak. Indien nie, sal die VF Plus genoodsaak wees om die nasionale minister van samewerkende regering te versoek om dringend by die Emfuleni-munisipaliteit se werksaamhede in te gryp.
Kontakbesonderhede: 060 556 4347