fbpx
Vryheidsfront Plus

Burgemeester se besoek van meer as R413 000 stopgesit

‘n Beplande besoek deur die burgemeester van die Dihlabeng-plaaslike munisipaliteit, Lindiwe Makhalema en munisipale afgevaardigdes, is ter elfder uur gekeer nadat die ANC-regeerde munisipale raad nie ‘n kworum kon kry om die besoek goed te keur nie.

Dit is kommerwekkend dat die geld vir die toer reeds betaal is. Dit is teenstrydig met bepalings van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA), wat bepaal dat sulke uitgawes eers deur die raad goedgekeur moet word voor dit aangegaan mag word.

Die VF Plus vind dit vreemd dat ‘n spesiale raadsvergadering belê is slegs ‘n dag voordat die beplande besoek aan Portugal en Switserland moes plaasvind om vinnig goedkeuring te kry vir die meer asR 413 000, wat insluit:

• R 158 130 vir verblyf
• R 249 210 vir vlugte
• R 6 632.50 vir reisversekering

Die burgemeester se buitelandse toer, wat deur belastingbetalers befonds sou moes word, is bloot ‘n vakansie vir haar en haar afvaardiging en is onaanvaarbaar.

Kontak en verhoudings met die buiteland kan opbouend wees, maar nie wanneer dit ten koste van inwoners van die munisipaliteit plaasvind nie. Dit wys eerder op ‘n verontagsaming van die wet en ‘n blatante gebrek aan ‘n politieke en etiese wil om Dihlabeng effektief te laat funksioneer.

Die burgemeester se prioriteit is duidelik verkeerd. Om wyn- en veeplase in Villa Real, Portugal en ‘n nasionale fees in Montreax, Switserland te besoek, gaan nie die finansiële omstandighede van Dihlabeng verbeter nie. Inteendeel, dié onreëlmatige uitgawe en die feit dat die burgemeester moontlik die goedkeuring deur die raad op so kort kennisgewing wou forseer, is ‘n duidelike bewys dat die besoek verdag is en die skaars finansiële hulpbronne wat die munisipaliteit tot sy beskikking het sou vermors.

Die VF Plus se LPW in die Vrystaatse Wetgewer, Tammy Wessels, het reeds ‘n skrywe aan die provinsie se LUR, Elzabé Rockmann, asook die LUR vir samewerkende regering en tradisionele Sake, Oupa Khoabane, gerig. Sy het versoek dat die departemente sonder verwyl ingryp om die onreëlmatige uitgawes deur Dihlabeng aan te spreek en soortgelyke vrugtelose en verkwiste besteding hok te slaan.
Die VF Plus sal ook in die raad daarop aandring dat die amptenare wat hulle aan die roekelose en verkwistende besteding van belastingbetalers se geld skuldig gemaak het deur reeds sekere uitbetalings vir die reis te maak, persoonlik aanspreeklik gehou word vir die terugbetaling daarvan.

Kontakbesonderhede: 082 927 2759

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.