Die ANC in Gauteng se aankondiging die afgelope naweek dat die omstrede e-tolstelsel in Gauteng geskrap moet word, is niks nuuts nie. Gauteng se premier, mnr. David Makhura, het al tot vervelens toe hierdie stelling die afgelope paar jaar in die Gautengse wetgewer en in sy provinsiale redes gemaak.
Die feit is egter dat die ANC in Gauteng en selfs premier Makhura nie veel doen om van die stelsel ontslae te raak nie, maar eerder die uitsprake gebruik om populistiese steun by kiesers in Gauteng te werf vir die 2019-verkiesing. Die VF Plus glo dat die ANC in dié provinsie nou alles in die stryd sal werp om nie die provinsie in 2019 aan ‘n koalisie van opposisiepartye af te staan nie.
Die VF Plus glo ook dat die e-tol-probleem nou deur die ANC in Gauteng gebruik word om dit tot voordeel van die regerende party in die provinsie aan te wend. Makhura het in 2015, teen miljoene rande, ‘n e-tol-komitee op die been gebring en daarvan het ook nie veel gekom nie behalwe ‘n verslag wat destyds aan die nasionale regering oorhandig is.
Makhura het hierdie jaar, soos voorheen, in sy provinsiale rede teen e-tol uitgevaar maar nog nie veel gedoen om die stelsel heeltemal stop te sit nie. Reeds in sy provinsiale rede vanjaar het Makhura onderneem om die saak op te neem met president Cyril Ramaphosa, maar daarvan het ook niks gekom nie.
Die VF Plus glo dus dat die ANC se aankondiging hierdie naweek eintlik niksseggend is en dat die kieserspubliek reeds deur die ANC begin sien het.
Makhura se uitsprake die afgelope naweek dat die ANC in Gauteng nie sal wag vir die parlement om tot ‘n slotsom te kom oor die kwessie van onteiening sonder vergoeding nie, is ook ‘n bewys dat die VF Plus se standpunt net herbevestig word wat populistiese uitsprake van die ANC in Gauteng betref
Die VF Plus bevestig weereens dat Makhura se optrede oor grond en om die parlementêre proses vooruit te loop onwettig is en dat die premier slegs kan handel met provinsiale grond en geboue ingevolge die Wet op Grondadministrasie, Wet 11 van 1996.
Makhura kan aan geen private grond en geboue raak voordat die proses rondom Artikel 25 van die Grondwet nie afgehandel en deur die parlement gewysig is nie.
Kontakbesonderhede: 060 556 4347