Die EFF het nou met ‘n venynige aanval op mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, oplaas sy ware, immorele kleure gewys deur hom aan die kant van oud-president Jacob Zuma en staatskaping te skaar teen skoon administrasie.
Die EFF se algemene sekretaris, Godrich Gardee, het ‘n brief gestuur aan die rade van al die staatsentiteite “wat onder die administrasie staan van openbare ondernemings” waarin Gordhan beskuldig word dat hy besig is met ‘n “heksejag onder die dekmantel van optrede teen staatskaping”.
Nadat die EFF hom tot dusver voorgedoen het as die groot kampvegter teen Zuma, staatskaping en die Guptas, het die party nou in ‘n handomkeer sy ware kleure gewys in sy aanval op Gordhan.
Dit was die afgelope jare duidelik dat die EFF se gewaande stryd teen staatskaping nooit eerbaar was nie en dat dit bloot ‘n speletjie vir politieke gewin was.
Gordhan se hand moet intussen gesterk word om voort te gaan met sy skoonmaakwerk by entiteite wat deur staatskaping verkanker is om Suid-Afrika weg te stuur van die dreigende fiskale afgrond wat die land se ekonomie wesenlik bedreig.
Die revolusionêre omgewing waarin Gordhan sy reddingswerk moet doen, word duidelik al hoe meer intens, en die vraag kan met reg gevra word waarom die EFF skielik bedreigd voel noudat daar daadwerklik teen staatskaping en korrupsie opgetree word.
Die voorsitter van die EFF, adv. Dali Mpofu, tree tans op namens mnr. Tom Moyane, geskorste hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, in Moyana se dissiplinêre tugverhoor. Uit Gardee se brief kan afgelei word dat die EFF ook gaan optree namens die Transnet-hoof, mnr. Siyabonga Gama wat glo in Gordhan se visier is.
Die EFF-masker is nou totaal af en daar hoef geen twyfel meer te wees waar dié party staan ten opsigte van staatskaping en korrupsie nie.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216


