Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Emfuleni faal groot industrieë en ondernemings

Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) plaas groot industrieë en ondernemings onder toenemende finansiële druk weens sy versuim om diensverskaffers betyds te betaal en om tydige diensooreenkomste met nuwe verskaffers te sluit.

Meteronline (MOL), die maatskappy wat kragverbruik elektronies lees en outomaties aan die munisipaliteit se rekeningafdeling deurstuur, het sy dienste gestaak weens wanbetaling.

Emfuleni se kontrak met MOL het reeds in Maart vanjaar verval en is daarna op ’n maandelikse grondslag voortgesit. In September het die verhouding tussen die partye versleg toe MOL nie vir sy dienste vergoed is nie.

As gevolg hiervan het die munisipaliteit se rekeningafdeling geen ander keuse gehad nie as om kragrekeninge aan verbruikers te stuur wat gegrond is op die verbruik van dieselfde tydperk ’n jaar gelede. Die kragverhoging wat intussen in werking getree het, is ook bygevoeg.

Hierdie tussentydse reëling het verbruikers woedend gelaat, aangesien hul kragverbruik intussen verander het. Baie ondernemings verbruik tans minder krag weens naweeksluitings of afgeskaalde bedrywighede.

Alhoewel verbruikers in Emfuleni hul uitstaande kragrekeninge direk aan Eskom betaal, bly die munisipaliteit verantwoordelik vir die kraglesings.

Die VF Plus het in ’n skrywe aan burgemeester Sipho Radebe gewaarsku dat die munisipaliteit dringend ’n diensooreenkoms met ’n goedgekeurde verskaffer moet sluit om te voorkom dat ondernemings se krag afgesny word weens geskatte lesings.

Ondernemings wat ’n betekenisvolle ekonomiese bydra tot Emfuleni lewer, kan nie bekostig om opgeblase en foutiewe rekeninge te ontvang nie.

Die VF Plus sal aanhou om met die burgemeesterskantoor in verbinding te bly om vas te stel of ’n nuwe ooreenkoms onderteken is sodat die outomatiese kragverbruikstelsel weer in werking kan tree.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.