fbpx
Vryheidsfront Plus

Ekonomie betaal nou die prys vir die ANC se oorlogsverklaring teen Suid-Afrika

Dit is skokkend om te sien hoe Suid-Afrika se ekonomie agteruit gaan, alhoewel dit nie onverwags is nie gegewe die ANC se oorlogsverklaring teen Suid-Afrika deur sy swak ekonomiese beleid en inmenging in die ekonomie.

Die ekonomiese groeikoers van -3,2% vir die eerste kwartaal van vanjaar wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) vanoggend bekend gemaak het, is nogtans ‘n uiterste skok.

Die ANC se oorlogsverklaring teen die land het reeds begin met die verskerpte maatreëls rakende Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en Regstellende Aksie (RA). Daarmee saam het faktore soos staatskaping, hoë misdaadsyfers en voorgenome onteiening sonder vergoeding ‘n perfekte storm gevorm om die land se ekonomie te beskadig.

Dit is die rede waarom buitelandse beleggers wegbly en die ANC het sodoende ook oorlog verklaar teen tradisionele buitelandse vennote soos die Europese Unie (EU) en Amerika en die land kry nie meer die nodige beleggings nie aangesien beleggers geen vertroue het in die ANC om die ekonomie te bestuur nie.

Hierdie skade gaan groot kundigheid en harde werk verg om te herstel en die VF Plus is oortuig daarvan dat die ANC nie die party is wat in staat is om dit te vermag nie.

Dit is ook skokkend om te sien hoe landbouproduksie geval het. Dit is direk weens die ANC se verskroeide aarde-beleid jeens landbou. Daar is geen erns om plaasmoorde te bekamp nie. Die VF Plus bepleit lank reeds die daarstelling van onder meer spesiale eenhede om brutale plaasaanvalle en -moorde te voorkom.

Die regering het geen wesenlike hulp aan die landbousektor gebied nie en die teendeel het tewens gebeur deur dié sektor verder te teiken deur die konsep van onteiening sonder vergoeding. Dit moet dus geen verrassing wees dat ANC se vernietigende beleid ook in hierdie sektor sy tol eis nie.

Dit is duidelik dat die ANC ‘n roekelose organisasie is wat geen ag slaan op die lot van Suid-Afrika se mense nie en wat nie daarin belang stel om ‘n beleid te stel waarin ‘n vrye mark die ekonomie kan laat gedy nie. Die ANC bestaan net vir homself en sy kaartdraende lede.

Die res van Suid-Afrika se mense sal al hoe swaarder kry, ongeag van watter kleur hulle is, en daar is net een oplossing hiervoor en dit is om van die ANC ontslae te raak, want daar is geen manier hoe die ANC self kan of sal omdraai en die land red nie.

Die publiek moet om hul eie oorlewing hande vat en saam met die VF Plus werk om die ANC en ander partye met ‘n linksgesinde beleid te isoleer sodat die regte partye in ‘n koalisie aan bewind kan kom om die land om te draai en op die herstelpad te plaas.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.