fbpx
Vryheidsfront Plus

EFF se optrede is boewery en Malema is aanspreeklik

Die optrede vandag van EFF-lede teenoor die winkelgroep Clicks met gepaardgaande plundery, brandstigting en vandalisme, is niks anders nie as boewery. Die leier van die EFF, Julius Malema, moet persoonlik hiervoor aanspreeklik gehou word aangesien hy sy ondersteuners op sosiale media aangehits het om die groep se winkels “aan te val”.

In Malema se twiets, wat ook in die media verskyn het (EWN 7 September 2020), sê hy onder meer; “See you tomorrow. Fellow fighters and ground forces; ATTACK!!!”.

Dit is duidelik dat Malema openbare geweld aangestig het en hy is daarom medepligtig aan die optrede van sy ondersteuners en die skade wat aangerig is. Die gooi van petrolbomme na winkels soos in Witbank, Mpumalanga, grens aan terrorisme en daar moet op die strengste wyse moontlik hierteen opgetree word.

Die VF Plus se leier (dr. Pieter Groenewald), doen ‘n beroep op die winkelgroep Clicks om strafregtelike klagte aanhangig te maak teen die oortreders en teen Julius Malema as medepligtige. Die EFF as organisasie en Malema moet aanspreeklik gehou word vir alle skade wat veroorsaak is en daar moet ook siviele eise teen hulle ingestel word.

Suid-Afrika kan dit nie bekostig dat meningsverskille op hierdie wyse opgelos word nie. Indien die EFF die saak op ‘n waardige wyse met Clicks opgeneem het en hul misnoeë oor die betrokke advertensie uitgespreek het, sou hulle ‘n voorbeeld vir almal gestel het oor hoe om op te tree wanneer geskille ontstaan.

Vandag se optrede grens egter aan anargie en indien almal in Suid-Afrika hul geskille op hierdie wyse probeer besleg sonder enige gevolge, sal dit totale chaos en anargie veroorsaak wat net tot geweld en polarisasie kan lei.

Een van die probleme in Suid-Afrika is dat misdadigers wat strafregtelik vervolg behoort te word, te maklik wegkom met hul misdadigheid en straffeloos voortgaan met hul optrede.

Daar moet ‘n voorbeeld van die EFF se optrede van vandag gemaak word. Indien dit nie gebeur nie, sal wetsgehoorsame mense hul vertroue verder in die land se strafregstelsel verloor om hulle te beskerm.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die polisie om daadwerklik op te tree en mense in hegtenis neem wat betrokke is by openbare geweld en die beskadiging van eiendom.

 

Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.