Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

EFF/ANC-faksie dryf Mamusa na afgrond

Die VF Plus eis die onmiddellike verwydering van agt raadslede in die Mamusa-plaaslike munisipaliteit wat die munisipale raad met hul optrede reeds maande lank ontwrig.

Hierdie groepering, bestaande uit vier EFF lede, drie ANC’s en een AICM-lid, weier om raadsvergaderings by te woon en keer sodoende dat ‘n kworum in die raad gevorm kan word om geldige besluite te neem.

Hul optrede het ‘n verlammende uitwerking op die funksionering van die munisipaliteit.

Inwoners word tans met voorafbetaalde elektrisiteit onderwerp aan kragonderbrekings van tot tien ure per dag weens die feit dat die munisipale raad nie ‘n betalingsooreenkoms met Eskom kan goedkeur nie.

Die genoemde wettelose kaders het gister twee behoorlik geskeduleerde raadsvergaderings geïgnoreer, wetende dat Eskom kragvoorsiening gaan opskort in die afwesigheid van ‘n geldige raadsbesluit.

Die geraakte gebiede sluit die hele sakegebied van Schweizer Reneke asook omliggende woonbuurte in. Die plaaslike bejaardetehuis, skole, die Schweizer Reneke-hospitaal en klinieke kan nie behoorlik funksioneer nie. Die impak hiervan op veral bejaardes en pasiënte wat noodsaaklike sorg benodig, is enorm.

Veral weens die huidige styging van die diesel-en petrolprys wat die gebruik van kragopwekkers onbekostigbaar maak, moet ‘n groot aantal sake-ondernemings hul deure sluit ten tyde van die kragonderbrekings.

Die plaaslike ekonomie word stadig maar seker doodgewurg deur ‘n klein faksie ANC- en EFF-geleide opportuniste wat skynbaar geen begrip het van die omvang van die skade wat hulle aanrig nie.

‘n Verdere gevolg is die logiese toename in misdaad wat telkens plaasvind tydens sulke kragonderbrekings. Kabeldiefstal en ‘n styging in inbrake raak weer aan die orde van die dag.

Dit is noodsaaklik dat Noordwes se LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake (Coghsta), Oageng Molapisi, sy magte in terme van skedule sewe van die Munisipale Strukturewet doeltreffend gebruik en hierdie betrokke raadslede, ongeag hul politieke affiliasie, onmiddellik uit hul poste verwyder.

Een van die kern-verantwoordelikhede van die LUR is juis om verantwoordbaarheid in plaaslike munisipaliteite te verseker.

Dit kan nie langer toegelaat word dat ANC/EFF-faksies in Mamusa ‘n eens vooruitstrewende gemeenskap weens hul hebsug gyselaar hou en die plaaslike ekonomie vernietig nie.

Hierdie kultuur van wetteloosheid in Mamusa is toegelaat om wortel te skiet in die plaaslike munisipaliteit onder die beheer van opeenvolgende ANC-administrasies.

Die VF Plus sal bly stry vir die herstel van professionele munisipale dienste in Mamusa.

Hierdie situasie is nog ‘n wekroep tot kiesers om hul stemme te gebruik om in die plaaslike regeringsverkiesing te verseker dat die ANC en EFF uit plaaslike regering in Mamusa gehou word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.