fbpx
Vryheidsfront Plus

DUBBELE MOORD SKOK DIE MEMEL-GEMEENSKAP

Die Vryheidsfront Plus het met skok en afgryse kennis geneem van die sinnelose en barbaarse aanval op die Viviers-gesin van Memel, wat uiteindelik tot die dood van mev. Charlotte Viviers en mnr. Eric Oosthuizen gelei het.  Mnr. Viv Viviers is ernstig beseer in ‘n marteling deur die aanvallers.

Jan van Niekerk, VF Plus Provinsiale Leier in die Vrystaat, het gesê dat die Viviers-egpaar aan hom welbekend is en dat dit van die vriendelikste en vredeliewendste mense in die gemeenskap was. Hy het mev. Viviers beskryf as ‘n uiters liefdevolle vrou, wat omgegee het vir haar medemens.

Voorvalle soos hierdie dryf lede van die publiek teen die mure uit, aangesien dit ‘n mens magteloos laat, sonder vertroue dat die skuldiges noodwendig gevang sal word en uiteindelik deur ‘n gebrekkige regstelsel nie behoorlik gestraf sal word nie.

Die VF Plus sal voortgaan om volgehoue druk op die regering te plaas om die doodstraf vir moordenaars in te stel, aangesien dit die enigste gepaste straf vir moordenaars is en dit sal ook dien as afskrikmiddel vir ander.

Die VF Plus wens mnr. Viviers ‘n spoedige herstel toe en dra hom in ons gebede op aan ons Hemelse Vader vir die moeilike tyd wat voorlê, om sonder sy geliefdes deur die lewe te moet gaan. “Volgehoue druk sal op die regering geplaas word totdat die betrokke moordenaars in hegtenis geneem is en hulle die swaarste straf moontlik opgelê is,” het van Niekerk gesê.

JAN VAN NIEKERK

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.