Die VF Plus het Donderdag ʼn groot oorwinning behaal toe die burgemeester van die Ekurhuleni-metro, mnr. Nkosindiphile Xhakaza, tydens sy stadsrede aangekondig het dat die heraansluitingsfooi wat inwoners moet betaal ná hul kragkabels gesteel is, geskrap word.
Die burgemeester het in sy toespraak spesifiek na die VF Plus verwys wat ʼn versoekskrif geloods het nadat tientalle huiseienaars verantwoordelik gehou is vir die vervanging van kragkabels wat gesteel of gevandaliseer is.
Die doel van die versoekskrif was om inwoners aan te moedig om Ekurhuleni te dwing om ‘n memorandum van die vorige ANC-regering in die verband, terug te trek. Dit is inderdaad vandag gedoen.
Beloftes is egter nie genoeg nie. Die VF Plus sal die energiedepartement monitor om te verseker dat die onbillike praktyk wel afgeskaf word.
Inwoners kan nie verantwoordelik gehou word vir ʼn misdaad soos kabeldiefstal waarby hulle geen betrokkenheid het nie.
Die VF Plus beskou hierdie oorwinning as ʼn bewys dat die party selfs as opposisie daarin kan slaag dat inwoners se belange eerste gestel word.


