Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Drakenstein se burgemeesterskomitee moet verklein word

Die VF Plus het die vorige burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, Conrad Poole, sowel as die huidige burgemeester, Stephen Korabie, reeds by herhaling versoek om die munisipaliteit se burgemeesterskomitee te verklein.

Dié komitee jaag belastingbetalers maandeliks duisende rande uit die sak, terwyl die betrokke lede boonop min op kantoor is. Hierdie pleidooie val egter deurlopend op dowe ore

Drakenstein het slegs vier direktorate, maar daar is tans elf burgemeesterskomiteelede.

Die VF Plus het voorgestel dat die komitee tot ’n maksimum van vyf lede verklein word. Dit sal ’n besparing van sowat R461 341 per maand (meer as R5,5 miljoen per jaar) meebring – geld wat eerder aan dringende infrastruktuuronderhoud en dienslewering bestee kan word.

Dit is die party se siening dat die samestelling van groot, duur burgemeesterskomitees bloot die vergoeding van ’n politieke elite bevoordeel ten koste van die belastingbetaler.

In ’n land waar munisipaliteite slegs sowat 2% aan infrastruktuur bestee, is die voorgestelde besparing van R5,5 miljoen per jaar in Drakenstein ’n direkte uitvoering van die VF Plus se amptelike beleid om fiskale dissipline af te dwing, buitensporige politieke salarisse te besnoei en prioriteit terug te plaas in noodsaaklike dienslewering.

Die VF Plus glo die inwoners van Drakenstein verdien beter as ’n oorgroot burgemeesterskomitee wat min sigbare waarde lewer.

Die party sal aanhou om daarop aan te dring dat belastingbetalersgeld verantwoordelik bestee word en dat dienslewering prioriteit geniet.

Inwoners het op 4 November die geleentheid om vir die VF Plus te stem om te verseker dat belastinggeld verantwoordelik bestee word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.