Die besluit van Dirco om juis nou – terwyl die VSA en Israel in ‘n oorlog teen Iran gewikkel is – saam met sy gure vennote van die Den Haag-groep Israel van menseregtevergrype te beskuldig en optrede te eis, is onverstandig en onverantwoordelik.
In tye van oorlog word geopolitieke skeidslyne skerper gedefinieer, en om jouself aan ‘n sekere kant te plaas – soos Suid-Afrika wat Iran omarm terwyl dié land met Amerika en Israel oorlog maak – kan ernstige implikasies inhou.
Die Den Haag-groep sluit lande in soos Colombia, Kuba, Bolivia en Senegal, en is gestig om “gekoördineerde regs- en politieke stappe te neem” om Israel tot orde te roep oor onder meer sy optrede in Gaza. Suid-Afrika is mede-voorsitter van die groep.
Israel het reeds skerp gereageer op die laaste vergadering van die Den Haag-groep op 4 Maart 2026 en het Suid-Afrika direk beskuldig dat hy met sy vyand Iran saamwerk.
Hierdie is ‘n baie ernstige waarskuwing en kan nie ligtelik geneem word nie. Die situasie plaas Suid-Afrika in ‘n posisie van openlike antagonisme teenoor Israel en sy bondgenote.
Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) se optrede word direk gerig deur die ideologies gedrewe beleid en sienswyses van die ANC.
Dit onderstreep ‘n kommerwekkende neiging waar Suid-Afrika se buitelandse beleid toenemend die Weste – en veral die VSA – van hom vervreem.
Die VF Plus is sterk hierteen gekant en het reeds herhaaldelik daarop aangedring dat die ANC nie alleen in beheer mag wees van Suid-Afrika se buitelandse beleid nie.
Dié beleid moet ‘n nasionale prioriteit wees, met breë parlementêre toesig en konsultasie om gebalanseerde besluite te verseker in belang van die land en al sy inwoners.
‘n Land met ‘n regering wat sy inwoners oor dekades met afbrekende beleid, korrupsie en wanbestuur laat verarm het – met ‘n werkloosheidsyfer van 42,1% terwyl 26,5 miljoen mense op maatskaplike toelaes oorleef – beklee in elk geval nie die morele hoë grond om aan ander voor te skryf oor menseregte nie.
Suid-Afrika moet eerder fokus op pragmatiese diplomasie wat werkskepping, ekonomiese groei en veiligheid bevorder deur ‘n buitelandse beleid wat nie net die ANC se belange dien nie.


