Die Tshwane-metro se voortslepende versuim om verouderde waterinfrastruktuur in Streek 4 (Lyttelton en Lyttelton Manor) te vervang, stel inwoners se lewe direk in gevaar.
Luidens die metro se eie ramprisikobestuursverslag vir 2024/25, het daar 63 sinkgate in die metro voorgekom, waarvan 88% nie natuurverskynsels is nie, maar veroorsaak is weens waterlekkasies in ou waterpype.
Die VF Plus het Donderdag tydens ʼn raadsvergadering beklemtoon dat die waterdruk in die gebied met meer as die helfte verlaag is.
Dit verhoog die risiko vir verdere grondinsakkings en sinkgate. Die metro se enigste reaksie bly tydelike watertenkwaens, terwyl belastingbetalers vir ‘n simptoom-behandeling betaal sonder dat die oorsaak reggestel word.
Boonop het die VF Plus se versoekskrif met byna 3 500 handtekeninge, wat in September 2025 ingedien is en ‘n plaaslike ramptoestand vir streek 4 geëis het, in die metro se burokrasie verlore geraak. Dit het nooit die petisiekomitee bereik nie.
Die VF Plus dring daarop aan dat die metro dringend:
• Verouderde asbespype in dolomitiese gebiede prioritiseer en vervang.
• Fondse van watertenkwa-dienste herlei na permanente infrastruktuur-herstel.
• ‘n Vinnige, gespesialiseerde reaksie-eenheid vir lekkasies instel.
• Die verlore petisie erken en streek 4 as plaaslike ramptoestand verklaar om provinsiale hulpbronne te ontsluit.
Inwoners van Lyttelton verdien nie om in ‘n lewensgevaarlike omgewing te leef nie.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas totdat die metro sy verantwoordelikheid nakom en die veiligheid van gemeenskappe prioritiseer.


