Inwoners van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) word gewaarsku dat die vlak van dienslewering deur die munisipaliteit oor die volgende paar jaar nog baie gaan verswak.
Die rede vir hierdie donker toekomsvisie vir die munisipaliteit is omdat al hoe minder inwoners vir dienste betaal.
In die 2022-23 finansiële jaar was die raad se invorderingskoers vir dienste 88%, terwyl die teiken 91% was.
In die eerste kwartaal van die huidige finansiële jaar het Mogale City se invorderingskoers vir dienste geval tot ‘n skamele 75%.
Volgens die raad is die daling in die betalingskoers vir dienste grootliks te wyte aan die ongunstige ekonomiese toestande in die land, sowel as stygende rentekoerse en die inflasiekoers.
Inwoners word deur die raad aangemoedig om aansoek te doen om as behoeftiges geregistreer te word.
Hierdie kortsigtige visie gaan egter tot gevolg hê dat nog minder inwoners vir dienste gaan betaal.
Dit is ook belangrik om daarop te let dat die stigting van die Brickvale-behuisingskema in Tarlton na verwagting ‘n reuse las op Mogale City se finansies gaan plaas, wat dienslewering aan betalende inwoners verder gaan inperk.
Tydens ‘n oorsigbesoek aan Brickvale het dit aan die lig gekom dat daar geen watermeters by enige van die wooneenhede geïnstalleer is nie.
Verder is daar tot op hede geen munisipale rekeninge aan die inwoners gegee nie. Dit is uiters kommerwekkend aangesien van die wooneenhede reeds verlede jaar aan inwoners oorhandig is.
Die jongste syfers wys dat 275 van die eenhede reeds bewoon word, sonder dat daar enigsins vir dienste betaal word.
Aan die einde van die dag gaan die Brickvale-skema uit sowat 6 000 wooneenhede bestaan, wat dit sowat 20% groter gaan maak as wat Munsieville tans is.
Mogale City kan nie bekostig om gratis dienste aan al hoe meer inwoners te bied terwyl die finansiële las op die getroue belastingbetalers groter word nie.
Die onderstaande tabel gee ‘n voorbeeld van die betalingskoers van die verskillende gebiede in Mogale City: (Die bedrae is in Rand)
| Gebied | Dienste gebruik | Bedrag betaal | Verskil | Betalingskoers |
| Factoria | 71,402,299 | 75,411,870 | 4,009,571 | 106% |
| Rant-en-Dal | 60,410,188 | 60,383,351 | (26,837) | 100% |
| Noordheuwel | 157,491,705 | 155,488,332 | (2,003,373) | 99% |
| Krugersdorp-Wes | 45,634,622 | 41,745,478 | (3,889,144) | 91% |
| Azaadvillle | 57,112,471 | 51,935,354 | (5,177,117) | 91% |
| West Villlage | 6,331,208 | 3,661,011 | (2,670,198) | 58% |
| Kagiso | 194,372,928 | 45,574,329 | (148,798,599) | 23% |
| Munsieville | 28,380,951 | 5,794,923 | (22,586,028) | 20% |
| Sinqobile | 7,564,134 | 680,477 | (6,883,656) | 9% |
Die VF Plus het die afgelope twee jaar sedert die munisipale verkiesings in 2021 by elke moontlike geleentheid daarop aangedring dat die raad kredietbeheermaatreëls verskerp, maar dié pleidooie val op dowe ore.
Die VF Plus het vandag (31 Oktober 2023) weer tydens ‘n raadsvergadering die aangeleentheid geopper, maar weereens is versoeke geïgnoreer.
Hierdie stand van sake is nie volhoubaar nie en gaan ongetwyfeld lei tot ‘n verdere verswakking in dienslewering omdat daar bloot nie geld is nie.


