Die VF Plus in die Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit het gister tydens ʼn raadsvergadering daarop aangedring dat bywette oor die regulering van kleuterskole en dagsorgsentrums wat reeds in Oktober 2022 opgestel is, dringend voor die raad moet dien vir goedkeuring en promulgering.
Met dié dat 46% van baba- en kleutersorggeriewe in die gebied volgens die munisipaliteit se eie statistieke nie aan veiligheidsvereistes voldoen nie, is dit noodsaaklik dat wetstoepassing dringend ʼn aanvang neem.
Dit kan nie toegelaat word dat babas en kleuters langer blootgestel word aan swak higiëniese omstandighede, onveilige fisieke strukture, onversorgde geriewe en onveilige speelareas nie.
Die feit dat daar tans slegs agt omgewingsgesondheidsbeamptes in stede van die vereiste twee en veertig in die munisipaliteit se diens is, skep ʼn verdere risiko. Hierdie beamptes moet onder meer verseker dat behoorlike gesondheidskontroles ingestel en onderhou word om die verspreiding van oordraagbare siektes te voorkom.
Die VF Plus het tydens die vergadering ook geëis dat alle vakante poste in die departement van munisipale gesondheid en omgewingsbestuur dringend gevul word om die situasie onder beheer te bring.
Die munisipale bestuurder, mnr. Mokgatlhe Ratlhogo, het onderneem om te verseker dat die bywette voor die einde van November voor die munisipale raad sal dien vir goedkeuring.
Dit is ʼn skande dat hierdie ANC-beheerde distriksmunisipaliteit deur suiwer nalatigheid toegelaat het dat babas en kleuters in ʼn ongereguleerde omgewing aan fisieke en gesondheidsgevare blootgestel word.
Die inwoners van die Kenneth Kaunda distrik verdien beter as die ANC.