Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se geldkoffers is só leeggeskraap dat dié munisipaliteit beswaarlik sy finansiële verpligtinge kan nakom.
Emfuleni se vloot voertuie het vandeesweek weer tot stilstand gekom omdat die dieselrekening nie betaal is nie. Die munisipaliteit nader nou plaaslike dieselverskaffers sodat vullis verwyder kan word.
Die situasie word vererger deur ondeurdagte besluite soos om eerder nuwe diensverskaffers aan te stel as om bestaande skuld te delg.
Intussen het een van die min werkende rioolpompstasies (PS33) in Emfuleni ook tot stilstand gekom omdat Eskom die elektrisiteitstoevoer gestaak het weens ‘n agterstallige elektrisiteitsrekening van R34 000. Dit het tot R500 000 se skade aan die pompstasie gelei.
Intussen vloei miljoene liters rioolvuil deur die strate en huise van Sebokeng wat afloop na die Vaalrivier. Ander areas wat deurloop in Vereniging is Peacehaven, die skouterrein, die abattoir en die begraafplaas.
‘n Bedrag van R151 miljoen is reeds aan die Ekurhuleni-metroraad se departement van water (ERWAT) betaal wat aangestel is om met die herstel van infrastruktuur te help. Daar is egter nog geen verbetering nie.
Die VF Plus het al op verskeie platvorms gevra waar die geld is en waarom ERWAT nog nie met herstelwerk begin het nie. Die party besoek gereeld die rioolpompstasies om homself te vergewis van die situasie en sal nie rus alvorens die probleem opgelos is nie.
Emfuleni se skuld is nie net tot ‘n agterstallige diesel- en kragrekening beperk nie. Verlede week het die balju ‘n aantal rekenaars verwyder omdat Emfuleni nie hul dienskontrak-voorwaardes nagekom het nie. Die uitstaande skuld is steeds nie betaal nie en munisipale amptenare kan geen navrae hanteer of nuwe rekeninge uitstuur nie.
Kontaknommer: 076 616 2124