Die VF Plus het die ANC in Gauteng gewaarsku dat die skep van nuwe metrorade in Gauteng nie dienslewering gaan verbeter nie maar eerder gaan lei tot meer opstande en betogings.
Die ANC beplan om Gauteng voor die 2016 verkiesing in vyf nuwe metros in te deel. Indien die ANC sy planne gaan deurvoer, gaan Gauteng na die 2016 verkiesing bestaan uit die Tshwane, Johannesburg, Ekurhuleni, West Rand en die Midvaal Metro.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, het gesê dat hierdie nuwe metros nie werkbaar is nie en dat die mense van die provinsie nie skielik oornag in 'n paradys gaan ontwaak en dienslewering drasties gaan verbeter nie. Die VF Plus se standpunt is dat kleiner munisipaliteite wat nou in groter metros ingedruk en omskep gaan word, reeds geen finansiële bydrae tot die ontwikkeling van Gauteng maak nie en dat hierdie munisipaliteite reeds op die rand van bankrotskap staan.
"Munisipaliteite in die huidige Wesrand spandeer nou nie eers hul jaarlikse begrotings nie. Slegs 26% van hierdie begrotings word tans spandeer en dienslewering bestaan amper nie eers meer in daardie areas nie. In die gebiede van Vereeniging en Vanderbijlpark het die finansiële hoof van hierdie munisipaliteite reeds vroeër vanjaar aan die VF Plus herken dat die gebiede nie genoeg finansies vanuit belastings per jaar inkry nie en sodoende sukkel om kop bo water te hou."
Die VF Plus is van mening dat die Premier van Gauteng, mnr. David Makhura, se skep van 'n nuwe "utopia" 'n agressiewe monster gaan skep wat hy nie gaan kan hanteer nie. Meer protesoptogte en geweld gaan in die provinsie uitbreek en minder dienslewering gaan verskaf word.
Van Staden het ook bygevoeg dat die afwenteling van mag eerder in werking gestel moet word deurdat elke dorp in hierdie provinsie oor sy eie munisipaliteit moet beskik. Sodoende word elke gemeenskap se belastinggelde in sy eie gebied aangewend en nie om bankrot munisipaliteite van ondergang te red nie.
Philip van Staden LPW Gauteng
Tel: 084 015 4722
Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za