In wat dui op grootskaalse korrupsie het altesame 658 polisiedossiere sedert 2013 van die polisie se speurtakke regoor die land vermis geraak terwyl net agt persone, van wie vyf polisielede, aangekla en vervolg is.
Dit is ‘n skokkende aanduiding van die polisie se onvermoë om hierdie soort misdaad te bekamp en kom rofweg daarop neer dat 650 dossiere sonder enige nagevolge verdwyn het.
Uit antwoorde op geskrewe vrae aan die minister van polisie, Bheki Cele, oor hoeveel dossiere sedert 2013 vermis geraak het, hoeveel mense daarvoor vervolg is en wat gedoen word om die verlies van dossiere te bekamp, blyk dit dat die Wes-Kaap met 229 vermiste dossiere verreweg die meeste probleme in dié verband het. (Vrae en antwoorde hierby aangeheg).
Tweede op die lys is Gauteng met 128, dan KwaZulu/Natal met 118, die Vrystaat met 97 en die Noord-Kaap met 54. In Limpopo het nie een dossier vermis geraak sedert 2013 nie, in Noordwes slegs vier, in Mpumalanga agt en in die Oos-Kaap 20.
Wat opval is die groot hoeveelheid dossiere wat binne ‘n enkele jaar op sommige plekke verlore geraak het.
In die eerste vier maande vanjaar het 44 dossiere by die Mothibistad-speurtak in die Noord-Kaap verdwyn. In 2014 het 57 by Nyanga se speurtak (Wes-Kaap) verdwyn, in 2016 55 by die Newcastle-speurtak (KwaZulu/Natal), in 2013 78 by die Tembisa-speurtak (Gauteng) en in 2016 41 by die Winburg-speurtak in die Vrystaat.
Dit is ironies dat die groot verlies van 658 dossiere juis onder die neuse van die land se speurders plaasgevind het, en dat slegs agt mense daarvoor aangekla is. Dit is onaanvaarbaar.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die minister se antwoord oor wat gedoen word om die probleem te bekamp, is uiters teleurstellend aangesien dit blyk dat slegs al die ou en normale prosedures steeds gebruik word om dossiere te beskerm.
Die tyd het aangebreek om innoverende stappe te neem om dossiere, en sodoende die publiek van Suid-Afrika, beter te beskerm aangesien ‘n saak doodloop wanneer ‘n dossier verlore raak en die misdadiger sodoende die reg ontwyk.
Wat hier gesien word, is wydlopende korrupsie en dien as bewys dat die strafregstelsel die mense van Suid-Afrika in die steek laat en ‘n omgewing skep waarin misdaad floreer.
Dr. Groenewald sal die saak met die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie opneem om seker te maak daadwerklike stappe word geneem om oplossings vir die probleem te vind.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216