Die Vrystaatse regering skuld nagenoeg R466 miljoen aan die Mangaung-metro munisipaliteit, waarvan R330 miljoen deur die departement van openbare werke verskuldig is.
Die metro, wat Woensdag deur die Ouditeur-Generaal (OG) uitgewys is as die swakste metro in die land wat finansiële bestuur betref, dreig om water en elektrisiteit na regeringsgeboue af te sny weens hierdie agterstallige skuld.
Vrystaatse munisipaliteite is in ‘n ongekende geldnood as gevolg van wanbestuur, kaderontplooiing, korrupsie en die algehele onvermoë van die ANC om behoorlike bestuur toe te pas en dit is ‘n kultuur wat deur die hoogste leierskap in die regerende party gevestig is.
Dit is ‘n volslae skande dat regeringsdepartemente, soos die departement van openbare werke, nie hul verpligtinge aan munisipaliteite nakom nie. Die regering kan nie van belastingbetalers verwag om klokslag maandeliks hul munisipale rekeninge te betaal as die regering self nie eers die voorbeeld kan stel nie.
Die departement, onder leiding van Dora Kotzee as LUR, is disfunksioneel en kan nie basiese finansiële bestuur toepas nie.
Die VF Plus neem kennis van die invorderingsmaatreëls wat deur die metro ingestel word en verwelkom dit, maar ag dit ‘n skande dat dit nodig is vir ‘n munisipaliteit om sulke maatreëls teen ‘n provinsiale departement te moet instel.
Die ANC-regering is soos ‘n vis wat besig is om van die kop af te vrot. Die gebrek aan effektiewe leierskap is besig om hom in te haal. Dit het tyd geword vir belastingbetalers om op ‘n alternatiewe regering aan te dring wat nie deur een enkele party oorheers word nie.
Kontaknommer: 082 490 6663