Die Dawid Kruiper-plaaslike munisipaliteit wat Upington en omliggende dorpe bedien, word dikwels beskou as die een munisipaliteit waarmee die Noord-Kaap kan spog. Oor die afgelope tyd het die VF Plus egter talle klagte van inwoners ontvang wat die waarskuwingsligte laat flikker.
Telefoonlyne by die nooddienste is na bewering dikwels buite werking of word nie beantwoord nie. Die indiening van klagte by die munisipaliteit loop volgens inwoners dikwels op niks uit nie.
Ontwrigting van die rioolstelsel tydens opgradering van die rioolwerke, hou ook vir inwoners frustrasie in. Riool loop in strate en selfs by woonerwe uit. Rommel wat in rioollyne beland, vererger die probleem en skep 'n gesondheidsrisiko.
Veral oor naweke is daar volgens talle inwoners 'n onwilligheid van munisipale amptenare om aandag aan dié soort probleme te skenk. Inwoners word bloot ingelig dat die spanne wat hiervoor verantwoordelik is, in die volgende week die nodige stappe sal neem.
Die VF Plus dring daarop aan dat Dawid Kruiper-munisipaliteit hierdie probleme oplos voordat dit by die lang lys van wanfunksionele plaaslike owerhede aansluit.
Navrae: 083 357 3865