Die begrotingsproses van die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) vir die 2026/27-finansiële jaar het ontaard in ’n klugspel van wanbestuur en chaos wat demokratiese prosesse ernstig ondermyn.
Op 28 Mei moes die raad vergader om die konsep-geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en die bedryfs- en kapitaalbegrotings te bespreek. Tog het die oorgrote meerderheid van die 120 raadslede geen agenda of ondersteunende dokumentasie betyds ontvang nie.
Dit is ’n direkte skending van die raad se reëls van orde wat vereis dat agendas ten minste vyf werksdae voor ’n vergadering beskikbaar moet wees.
Die vergadering het ure laat begin en nog langer gesloer terwyl partye moes koukus oor die wettigheid van die proses.
Uiteindelik is ’n spesiale hibriede sitting vir 29 Mei aangekondig, met die belofte dat alle dokumentasie vooraf beskikbaar sou wees.
Teen die aanvang van die vergadering was daar steeds geen agenda of begrotingsdokumente vir raadslede beskikbaar nie.
Ten spyte hiervan het die burgemeester, Babalwa Lobishe, aanbeveel dat die GOP en ander dokumente eenvoudig aanvaar of van kennis geneem moet word.
Dit beteken dat van raadslede verwag is om besluite te neem oor miljarde rande se openbare fondse sonder enige voorbereiding of behoorlike demokratiese toesig.
Die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) bepaal duidelik dat ’n begroting ten minste 90 dae voor die nuwe finansiële jaar ter tafel gelê moet word en minstens 30 dae voor 1 Julie oorweeg moet word.
Indien dit nie gebeur nie, kan die provinsiale regering ingevolge artikel 139 van die Grondwet ingryp.
Die wetlike sperdatums en vereistes is lankal bekend, maar word telkens met minagting behandel.
Hierdie gedrag wys dat politieke beheer en magsbehoud belangriker geag word as deursigtigheid, goeie regering en verantwoordbaarheid teenoor belastingbetalers.
Inwoners van Nelson Mandelabaai verdien beter as ʼn ANC-beheerde stadsbestuur wat nie eens sy eie begrotingsprosesse professioneel kan bestuur nie.
Op 4 November het inwoners die geleentheid om vir die VF Plus te stem om ʼn werklike verskil in hul lewensomstandighede te maak.


