Die elektrisiteitsverskaffer, Centlec, tree onwettig op deur elektrisiteitsmeters summier te verwyder waaraan moontlik gepeuter is.
Dit het onder die VF Plus se aandag gekom dat Centlec summier meters in Bloemfontein verwyder en dan van inwoners bykomende kostes hef vir die herinstallering daarvan. Die koste om ‘n meter te herinstalleer beloop meer as R20 000. Die VF Plus is veral bekommerd daaroor dat betalende inwoners gestraf word vir iets waaraan hulle nie noodwendig skuldig is nie.
Die VF Plus veroordeel pogings om elektrisiteitsmeters te manipuleer om gebruik minder te laat voorkom. Wat Centlec nie in ag neem nie, is dat die verwyderde elektrisiteitsmeters dien as bewyse in moontlike dispute.
Deur die meters te verwyder, peuter Centlec self daaraan en kan dit nie as bewys van manipulasie gebruik word nie.
Die VF Plus sal eis dat die munisipale bestuurder van Mangaung, adv. Tankiso Mea, dringend alternatiewe maatreëls oorweeg en implementeer om die manipulering van elektrisiteitsmeters te verhinder.
Kontaknommer: 082 305 1540