fbpx
Vryheidsfront Plus

Cele ontken dat hy voor onrus ‘n intelligensieverslag van staatsveiligheidsagentskap ontvang het

(Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het vandag die onrusgeteisterde gebied in KwaZulu-Natal saam met die parlement se portefeuljekomitee vir polisie besoek. Hier volg sy waarnemings)

Die minister van polisie, Bheki Cele, het vandag op ’n vraag (van dr. Groenewald) ten sterkste ontken dat hy voor verlede week se oproer enige inligtingsverslag van die minister van staatsveiligheid (SVA), Ayanda Dlodlo, ontvang het.

Volgens min. Cele het hy, soos die prosedure sou wees, vir geen inligting geteken of dit ontvang nie. Die nasionale polisiekommissaris, genl. Kehla Sitole, het volgens hom ook geen inligting ontvang nie.

Dit staan in skerp teenstelling met die bewerings verlede week van minister Dlodlo dat sy ’n volledig inligtingspakket oor die situasie opgestel en aan die polisie gegee het.

Dit is ’n duidelike bewys van òf ’n gebrek aan samewerking tussen die polisie en die SVA, òf dat minister Dlodlo of Cele se weergawe nie waar is nie.

Dié situasie is kommerwekkend en ek sal pres. Cyril Ramaphosa versoek om vas te stel wat die waarheid is. Indien sulke belangrike intelligensie-inligting nie reg hanteer word nie, kan dit rampspoedige gevolge vir die land inhou soos die afgelope week in KwaZulu-Natal gesien is.

Die bewering van minister Cele is baie ernstig en indien dit waar blyk te wees, sal minister Dlodlo onmiddellik van haar pos onthef moet word. Hierdie is nie ’n gewone situasie waar ’n blote fout dalk begaan is nie. Dit het Suid-Afrika tot op die rand van totale anargie gebring.

Minister Cele het ook in die komitee gesê die polisie het sowat ’n jaar gelede toerusting van meer as ’n honderd miljoen rand aangekoop om misdaadintelligensie te bekom.

Hierdie toerusting is steeds in onbruik aangesien etlike staatsdepartemente eers die nodige toestemming vir die gebruik daarvan moet gee en die proses bly sloer weens tydrowende rompslomp.

Die portefeuljekomitee sal ook hierdie aangeleentheid onder die loep neem om vas te stel waarom dit so sloer.

Hierdie besoek het my vroeëre uitlatings bevestig dat die onderskeie intelligensie-instellings die land in die steek gelaat het en dat die regering daardeur onkant gevang is soos wat president Ramaphosa verlede Vrydag erken het.

Die SVA sal die verantwoordelikheid hiervoor moet neem en daar sal opgetree moet word teen mense wat om welke rede ook al hiertoe bygedra het.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.