fbpx
Vryheidsfront Plus

Brandfort: Sisulu se voorstel om naam te verander is bisar

Die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, se populistiese uitsprake rondom die moontlike naamsverandering van Brandfort in die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit (Brandfort, Winburg, Theunissen) na Winnie Mandela-dorp, bewys dat die ANC homself eerder besig hou met sinnelose naamsveranderinge as met die prioritisering van dienslewering.

Inwoners van Brandfort ervaar daagliks water- en sanitasieprobleme en ontvang feitlik geen dienste nie. Die minister voer aan dat hierdie probleme toegeskryf word aan verouderde infrastruktuur en die groeiende bevolking, maar swyg oor die aantal jare waar instandhouding en opgradering van infrastruktuur en voldoende beplanning nie gedoen is nie.

Nou moedig dié minister die besteding van skaars hulpbronne op ‘n naamsveranderingsproses aan in stede van infrastruktuurontwikkeling- en instandhouding.

Dié voorgestelde naamsverandering sal onaanvaarbare hoë finansiële implikasies vir alle sfere van die plaaslike regering inhou, terwyl dit geen bydrae sal lewer ten opsigte van armoedeverligting, infrastruktuurontwikkeling of plaaslike ekonomiese groei nie.

Brandfort se plaaslike ekonomie is reeds lamgelê deur die enorme impak van die Covid-19-pandemie en die regering se gepaardgaande drakoniese regulasies. Gegewe die finansiële krisis, sal geen verantwoordelike regering enige naamsveranderings in hierdie tyd oorweeg nie.

Dit is ook onaanvaarbaar dat die ANC-regering name van dorpe en stede wil verander en sodoende die geskiedenis en ontwikkeling van hierdie dorpe misken.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat die ANC nou die klem plaas op sensitiewe populistiese uitsprake om stemme te werf aangesien hy nie daartoe in staat is om dienste te lewer nie.

Die Brandfort-gemeenskap het dringende infrastruktuur-ingrypings nodig – nie partytjies, monumente of ontwrigtende naamsveranderings nie.

Indien daar ‘n amptelike proses begin word om Brandfort se naam te verander, sal die VF Plus alles in sy vermoë doen om hierdie naamsverandering teen te staan.

Navrae: 083 743 2042

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.