Die bevinding van pres. Cyril Ramaphosa dat die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, slegs ‘n oordeelsfout begaan het deur toe te laat dat ‘n afvaardiging van die ANC in ‘n militêre vliegtuig na Zimbabwe reis en haar ligte straf daarvoor, is bloot ‘n skyngebaar om die publiek te paai.
Die president het beveel dat Mapisa-Nqakula drie maande se salaris verbeur en dat sy moet toesien dat die ANC die volle koste vir die vlug terugbetaal.
Die VF Plus sê dit is nie genoeg straf vir ‘n baie ernstige vergryp nie. Pres. Ramaphosa moes die minister onmiddellik afgedank het. Dit sou die regte besluit gewees het.
Die VF Plus het reeds ‘n klag hieroor ingedien by die Openbare Beskermer (OB). Mapisa-Nqakula se straf, alhoewel lig, is nou ‘n erkenning van die president dat sy verkeerd opgetree het en die VF Plus sal wag om te sien wat die OB hieroor besluit.
Die bevinding en die aanbeveling van die OB oor die saak sal uitgevoer moet word. Sou die OB dus besluit dat die minister afgedank moet word, sal die president daaraan gehoor moet gee.
Die president het hier ‘n gulde geleentheid laat verbygaan om aan Suid-Afrika te toon dat hy ernstig is om korrupsie uit te roei.
Hy het die land weereens gefaal ten koste van die ANC en hierdie optrede en straf is blote oëverblindery na die growwe nalatigheid van die minister van verdediging wat neerkom op korrupsie.
Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216