Stephan Harris (28), 'n verstandelik gestremde man, wat tydens die oproer in Pretoria, Booysens twee week gelede beseer is, het vandag aan sy beserings beswyk.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, het in reaksie op Harris se afsterwe gesê dat daar weereens met 'n persoon se lewe betaal is vir die onverantwoordelike optrede van mense in hoë poste wat mense op die Booysens-gemeenskap afgedwing het. Hulle wou maar net voortgaan om die gebied nog meer in ‘n skrootwerf te omskep deur die plakkery.
Van Staden sê dat hierdie tragedie en oproer verhoed kon gewees het as daar van die begin af met die gemeenskap gekonsulteer was oor die verskuiwing van mense vanaf Atteridgeville na die Booysens-gebied.
"Die VF Plus neem met leedwese kennis van Stephan se afsterwe. Vir meer as sewe jaar lank al vloei die bloed in die Booysens-gemeenskap oor presies dieselfde saak. Nou is daar hierdie keer met 'n verstandelik gestremde persoon se lewe betaal wat in die skermutseling betrokke geraak het.”
Van Staden het die hoop uitgespreek dat die mense wat verantwoordelik was vir hierdie onnodige skermutseling wat plaasgevind het, wakker sal skrik en besef dat hul optrede gelei het tot lewensverlies.
Die VF Plus betuig hul innige simpatie met die Harris familie.
Tel: 084 015 4722 / 060 556 4347
Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za