Die VF Plus neem met leedwese kennis van die afsterwe van een van Suid-Afrika se heel grootste sportmanne, die rugbylegende Joost van der Westhuizen, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê die VF Plus wil ook sy innige meegevoel betuig met die naasbestaandes van Van der Westhuizen. Die oud-speler het vandag gesterwe na ‘n jarelange stryd met motorneuronsiekte.
Hy sê Van der Westhuizen was as sportman vir baie jong rugbyspelers ‘n ikoon en rolmodel en dat sy besondere prestasies vanself spreek.
“Joost was nie net ‘n besondere rugbyspeler in sy generasie nie, maar een van die bestes in die geskiedenis van die sport nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld.
“Dit is bewys deur sy insluiting in 2007 in die Internasionale Heldesaal vir Rugby. In 2015 is hy ook in Suid-Afrika se Heldesaal vir Sport opgeneem.
“In 1995 het Joost die wêreldbeker help wen en in 1999 was hy kaptein van die wêreldbekerspan. Tot in 2013 het hy met 38 drieë die rekord gehou vir die meeste drieë in ‘n Springboktrui. Dan het hy natuurlik ook heldestatus geniet vir die elf jaar wat hy die ligbou-trui met onderskeiding gedra het.
“Mag hy nog lank vir ‘n jonger generasie as voorbeeld dien oor hoe om jou land met trots en passie op die sportveld te verteenwoordig,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403