(Parlement: Boodskappe van gelukwensing aan die Springbokke)
Die Springbok-rugbyspan het sy deel gedoen om Suid-Afrika hoop te gee en om nasiebou te bevorder. Nou moet almal in die land daarop voortbou.
Die gevoel van nasietrots het die afgelope dekades saam met die waarde van die rand en die inkrimping van die land se ekonomie tot ‘n ongekende laagtepunt gedaal. Werkloosheid, hoë misdaadvlakke, stygende inflasie, armoede en swak dienslewering het ‘n kollektiewe gevoel van wanhoop gevestig.
Die Springbokspan se sege in die Wêreldbekertoernooi en die euforie wat daarop gevolg het, dien as bewys dat die krag van sport nooit onderskat word nie. Sport kan mense oor verskeie grense heen verenig, soos tans duidelik in Suid-Afrika gesien kan word.
Hierdie oorwinning oor ‘n gevoel van moedeloosheid en die bewys dat daar wel eenheid in die land se groot verskeidenheid mense kan wees, is byna net so belangrik as die verowering van die gesogte Web Ellis-trofee.
‘n Enkele span in groen en goud kan egter nie die swaar las van nasiebou en die boodskap van hoop alleen op hul skouers dra nie. Dit is nou die taak van elke Suid-Afrikaner om saam te dra aan die juk, en om saam te werk en te bou aan ‘n beter toekoms vir almal.
Ons almal moet nou hierdie verantwoordelikheid van nasiebou by die Springbokke oorneem:
Ons moet ophou om mekaar op die baadjie te takseer en moet mekaar respekteer vir wie en wat ons is. Ons moet ophou om breë aannames te maak en te veralgemeen oor wie ons dink ons mede-landgenote is.
Ons moet ons skoene as ‘n trotse nasie begin volstaan. Ons moet ons regering aanspreeklik begin hou vir die wyse waarop ons belastinggeld bestee word. Ons moet verantwoordbaarheid, behoorlike bestuur en goeie en gesonde kernbeginsels op elke vlak van regering vereis.
Ons moet deelneem aan die prosesse wat lei tot wette en reëls wat ons direk raak. Ons moet nou bou aan ‘n toekoms vir ons kinders. Ons moet regmaak wat gebreek is voordat dit te laat is. Hierdie is ‘n eindstryd vir elke persoon in Suid-Afrika, ‘n eindstryd wat ons moet wen.
Kontaknommer: 072 997 8315