fbpx
Vryheidsfront Plus

Beweerde opnames van Tshwane-burgemeester dui op DA-probleme in metro

Die VF Plus het met skok verneem van klankgrepe wat tans die rondte doen op verskeie sosiale media platforms van gesprekke tussen die burgemeester van Tshwane, Stevens Mokgalapa en die burgemeesterskomiteelid vir vervoer, Sheila Senkubuge.

Die klankgrepe bevat na bewering gesprekke oor verskeie senior rolspelers in die Tshwane-metro.

Dit sluit onder andere in:

• Die speaker van die raad, Katlego Mathebe, wat as ‘n heks afgemaak word.
• Die voormalige burgemeester, Solly Msimanga, wat as ‘n “groot kop” bestempel word.
• Die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Mare-Lize Fourie, word glo daarvan beskuldig dat sy inligting aan die media lek.
• Mokgalapa dreig glo om die hoof van operasionele sake, mnr. James Murphy en ander senior bestuurslede af te dank.
• Die ANC se leier in die raad, raadslid Maepa, word glo ook bespreek.

Mokgalapa het glo onlangs ‘n kriminele klag by die Brooklyn-polisiekantoor ingedien oor die klankgrepe wat na bewering onwettig bekom is. Volgens hom is die klankgrepe gebruik om hom te dwing om werknemers wat geskors is, weer aan te stel.

Die VF Plus beskou die aantygings as baie ernstig en daar word van die DA as koalisievennoot verwag om die lug te suiwer met die waarheid en die nodige stappe te neem.

Die klankgrepe moet onverwyld forensies ondersoek word om die egtheid daarvan te bepaal en die uitslag van die ondersoek moet bekend gemaak word. Mokgalapa moet ook ‘n regverdige kans gegun word om sy kant van die saak te stel.

Dit wil voorkom of daar ‘n vertrouensbreuk binne die DA se top leierskap in die metro heers wat ‘n geweldige negatiewe impak het op die metro se vermoë om dienste effektief te kan lewer.

Die VF Plus het op Dinsdag, 26 November, ‘n afspraak met Mokgalapa en sal die saak dan met hom bespreek.

 

Kontaknommer: 072 815 4053

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.