Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Bethal: VF Plus vra kleiner, meer bestuurbare munisipale eenheid

Die VF Plus in Mpumalanga het met ‘n proses begin om Bethal, wat geteister word deur swak dienslewering en ‘n algemene verwaarlosing, as ‘n kleiner, meer bestuurbare munisipale eenheid daar te stel.

Die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit wat bestaan uit Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda en Trichardt, is onbestuurbaar weens die groot hoeveelheid dorpe wat deur die munisipaliteit van dienste voorsien moet word.

Om dié rede gaan die VF Plus skrywes rig aan die provinsiale LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, Mandla Msibi, en aan die munisipale afbakeningsraad om ingevolge die Munisipale Strukture- en Munisipale Afbakeningswet te versoek vir die herbepaling van die betrokke munisipale grense en die vestiging van Bethal as ‘n kleiner munisipaliteit.

Bethal word soos ‘n stiefkind deur die munisipaliteit behandel en van dienslewering aan getroue belastingbetalers in dié dorp is daar geen sprake van nie.

In 'n onlangse besoek aan Bethal was dit duidelik dat daar geen aandag gegee word aan probleme op die dorp nie. Rioolwater word sedert 28 Januarie 2020 deur die twee groot pompstasies in die Blesbokspruit (‘n sytak wat in die Vaalrivier uitmond) gepomp nadat ‘n ander pomp verwyder is en nooit vervang of herstel is nie.

Die Bethal-dam wat vroeër vir watersport gebruik is, is besoedel met rioolwater en inwoners is gewaarsku om nie van dié waterbron gebruik te maak nie.

Lewendige elektriese kabels lê ontbloot in sommige gebiede en bogrondse kabels word ondergronds gebruik wat volgens bronne bydra tot gereelde 18-uur lange kragonderbrekings in Bethal.

Volgens die VF Plus is ‘n plaaslike regeringstelsel wat kleiner is en meer plaaslik funksioneer, die antwoord vir swak dienslewering.

Die ANC-regering het oor en oor bewys dat groter begrotings lei tot wanbestuur, diefstal en korrupsie en dat belastingbetalers geen voordeel ontvang in die vorm van dienslewering nie.

Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.