fbpx
Vryheidsfront Plus

Besteding van R600 miljoen op water en tenks vir skole – minister se antwoord skep meer vrae as antwoorde

Die departement van basiese onderwys het, in afwyking van die normale voorsieningsketting, 'n tender van R600 miljoen aan die Randse Waterraad toegeken.

Daarmee, volgens 'n antwoord van die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshekga, is 3 500 skole van water en watertenks voorsien. Hierdie onvolledige antwoord skep meer vrae as antwoorde.

Dit is byvoorbeeld onduidelik hoeveel skole aan 'n munisipale waternetwerk gekoppel is; hoeveel boorgate (indien enige) op skoolgronde gesink is; hoe ver pypleidings daarvoor aangelê moes word; of watertenks met waterkarre of pypleiding gevul word; of waterleidings volgens formele vereistes aangelê is, of bo-op of naby die grondoppervlak; hoeveel watertenks voorsien is en wat die gekombineerde inhoudsmaat daarvan is; om maar 'n paar vrae te noem.

'n Deelsom dui daarop dat effens meer as R170 000 per skool bestee is. Gemiddelde syfers is problematies, want dit gee nie noodwendig betroubare inligting oor enige besondere geval nie.

Die VF Plus het vanuit die bedryf breë berekeningsyfers verkry:

Volgens berekening kan 'n 75 mm pyp volgens formele vereistes teen R200 per meter gelê word. Dit maak dus voorsiening vir 'n 800 m pypleiding en nog R10 000 om krane op die skoolgrond aan te lê. Nog 'n moontlikheid is 15 watertenks van tienduisend liter elk, wat nog R10 000 oorlaat om water tot by die tenks te kry en nog R10 000 om water op die skoolgrond te versprei. Anders kan 'n boorgat teen R100 000 gesink en toegerus word, wat R70 000 vir verspreiding oorlaat.

Die besteding wat hier ter sprake is, is op die oog af buitensporig. Die VF Plus het sedert die begin van die grendelstaat gewaarsku dat dit omstandighede skep waaronder roekelose, gewetenlose mense die belastingbetaler duur kan laat betaal.

Die onus rus op die minister van basiese onderwys om die agterdog dat dit in hierdie geval gebeur het, met volledige inligting uit die weg te ruim.

Navrae: 074 166 5540

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.