Kabeldiefstal by die Frankfort-rioolaanleg het veroorsaak dat nog meer rou riool as gewoonlik nou vrylik in die Wilgerivier en daarna in die Vaaldam inloop. Miljoene mense is afhanklik van die water, sê Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer.
Hy sê kabeldiefstal en vandalisme wat by die onbewaakte rioolaanleg plaasgevind het, het die jarelange rioolprobleem nou vererger. Die probleem is die gevolg van swak bestuur en beplanning sowel as ‘n gebrek aan onderhoud aan die pompe en ander infrastruktuur in die munisipaliteit.
“Omdat daar geen sekuriteit was nie is die aanleg deur diewe gestroop en kan dit nie tans sy krities belangrike funksie verrig nie. Die tekort aan beskerming van kritieke bates en gereedskap in die Vrystaat se munisipaliteite is ‘n reuse probleem.
“Die besoedeling van die Wilgerivier is eweneens ‘n groot probleem. Die water word in die Vaaldam opgegaar, wat nou met rou riool besoedel word. Miljoene mense in groot dele van Gauteng is van dié water afhanklik.
“Dit druis lynreg in teen elke lid van die gemeenskap se grondwetlike reg op ‘n omgewing wat nie skadelik is vir sy gesondheid of welstand nie. Dit oortree ook verskeie ander wette, soos onder meer die Nasionale Waterwet. Hierdie probleem is ‘n jarelange krisis wat toenemend vererger.
“Die VF Plus sal die nasionale minister van waterwese, sowel as die departement van samewerkende regering van die probleem in kennis stel en daadwerklike optrede vereis. Ons sal ook ‘n strafregtelike klag vir die oortreding van omgewingswetgewing teen die munisipale administrateur aanhangig maak,” het Wessels gesê.
Kontakbesonderhede: 082 674 6670