Beloftes van die ANC regering in Gauteng dat informele nedersettings teen 2019 heeltemal uitgewis gaan wees en almal voldoende behuising gaan kry, gaan nie realiseer nie.
In die eerste kwartaallikse verslag van die Departement Menslike Nedersettings vir die finansiële jaar 2015/2016, kon die betrokke departement daarin slaag om slegs 22150 nuwe huise regoor Gauteng te bou waarvan slegs 3452 huise en 428 woonstelle reeds aan gemeenskappe oorhandig is.
Die VF Plus het reeds aan die begin van 2015 die Premier gewaarsku dat sy beloftes vir hierdie vier jaar nie gaan realiseer nie. Aan die begin van 2015 was die behuisingsagterstand reeds 800 000 gewees. 200 000 Huise sal per jaar gebou moet word maar volgens die jongste verslag sal daar slegs 88600 huise teen 2019 aan gemeenskappe gelewer word indien daar 22150 huise elke jaar gebou word.
"Die VF Plus het hierdie probleem sien kom en die ANC gewaarsku dat hul valse beloftes aan die inwoners van Gauteng maak. Die tydbom het reeds ontplof en die huidige Premier en LUR gaan nog 'n duur prys hiervoor betaal".
Intussen sloer die oordragte van munisipale huise in die verskillende munisipaliteite en is bewoners van hierdie eiendomme, wat alreeds sedert 2008 wag vir oordragte om afgehandel te word, bekommerd dat hul nie die eienaars van hul wonings gaan word nie.
Philip van Staden LPW Gauteng
Tel: 084 015 4722
Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za