fbpx
Vryheidsfront Plus

Plan van regering om aan dokters voor te skryf waar hulle mag praktiseer, benadeel net SA

Die afgestofte plan van die ANC-regering om aan dokters voor te skryf waar hulle mag praktiseer, is onmenslik, ongrondwetlik, en gaan die land se gesondheidsdienste in die toekoms baie meer skade as goed doen, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor gesondheid.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het gister laat blyk dat dokters wel ingevolge die finale Nasionale Gesondheidsversekeringsplan (NGV) op grond van gesondheidsorg-behoeftes voorgesê gaan word waar hulle sal kan werk, en waar nie.

Die plan moet nog aan die kabinet voorgelê word vir goedkeuring.

Adv. Alberts sê daar was in die verlede met goeie rede groot ontevredenheid oor die voorstel, en die jongste aankondiging van Motsoaledi sal weer skokgolwe in veral dié professie veroorsaak.

“Soos met sy beleid oor arbeid, die ekonomie en haas op elke ander gebied, is dit bloot of niemand in die regering in staat is om die vernietigende gevolge van hul ondeurdagte planne in te sien nie.

“Die staat se pogings om die burgery op elke gebied te beheer en te reguleer, is besig om ‘n nuwe dimensie aan te neem.

“In die eerste punt in die eerste artikel van Suid-Afrika se Grondwet word reeds gepraat oor menseregte en vryhede. Die VF Plus sê die nuwe voorskrifte is so ingrypend drakonies, dat dit hoegenaamd nie versoenbaar is met die Grondwet wat vryheid en menseregte so hoog voorop stel nie.

“Indien dit realiseer, sal gemotiveerde jong mense bloot nie meer belang stel in die mediese beroep nie. Ander sal hul heil oorsee gaan soek in lande waar daar werklike vryhede bestaan.

“In ‘n ondeurdagte poging van die staat om sy verpligtinge oor te skuif op die private sektor, is hy oënskynlik bereid om van die room van ‘n waardevolle professie te verloor wat waarskynlik mettertyd van ‘n land soos Kuba aangevul sal word.

“Die tyd het aangebreek dat die burgery oor sulke vergrype van die staat in opstand kom saam met ‘n party soos die VF Plus wat dit onverbiddelik sal teenstaan,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.