Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Bela val weer vas – duisende openbare voorleggings steeds nie verwerk

Die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) het vandag weer die wind van voor gekry weens onverwerkte openbare voorleggings.

Dit het verlede week tot ʼn hewige uitval tussen voor- en teenstanders van die wetsontwerp gelei en is steeds onverwerk.

Op aanbeveling van die parlement se regsgeleerdes, het die voorsitter, me. Bongiwe Mbinqo-Gigraba, die vergadering tot aanstaande Dinsdag verdaag.

Wanneer openbare deelname vereis word, is dit nie ʼn blote formaliteit nie, dit is om die insig van gewone mense in die wetgewende proses te betrek.

Die kans bestaan dat tussen die duisende onverwerkte bydraes daar rigtinggewende voorstelle kan kom. Dit kan ook ʼn invloed hê op die vraag of die meerderheid deelnemers die wetsontwerp steun of nie.

Uit die oogpunt van ondersteuners van die wetsontwerp, is dit op die oomblik ʼn geval van hoe meer haas hoe minder spoed.

Die prosesse wat gevolg moet word voordat die president die wet kan teken, bepaal dat die huidige komiteefase voor einde Augustus afgehandel moes wees. Die vroegste wat dit nou kan gebeur, is 5 September.

Die sterkste teenkanting teen die wetsontwerp is steeds die sentralisering van besluitneming oor skole se taal- en toelatingsbeleid van die skoolbeheerliggaam, na die provinsiale departementshoof.

Tuisskole is ook bekommerd dat sekere bepalings ʼn magsbehepte departement in staat kan stel om tuisonderrig te benadeel.

Volgens die VF Plus is die beste oplossing om ʼn heel nuwe wetsontwerp te skryf. Sedert werk aan die huidige een in 2017 begin het, het die onderwyslandskap grondliggend verander.

Verder moet onderwys as ʼn gemeenskapsfunksie erken en versterk word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.