Voorstanders van Afrikaanse onderwys moet hulle op artikel 235 van die Suid-Afrikaanse Grondwet beroep indien hulle die huidige aanslag van die minister van basiese onderwys, die voorsitter van die portefeuljekomitee en die departement wil oorleef.
Dit is die VF Plus se beoordeling van ‘n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys wat Dinsdag ‘n voorlegging van die departement aangehoor het.
Die party neem ook met kommer kennis dat die minister, me. Siviwe Gwarube, ‘n lid van die DA, haar met die departement se anti-Afrikaanse agenda vereenselwig..
Artikel 235 van Suid-Afrika se Grondwet erken enige gemeenskap wat ‘n gemeenskaplike taal- en kultuurerfenis deel, se reg op selfbeskikking binne ‘n territoriale entiteit of op enige ander wyse bepaal deur nasionale wetgewing, met inagneming van ander grondwetlike bepalings.
Dit verskans die reg op Afrikaanse onderwys, maar voorstanders van Afrikaans sal self die voortou moet neem om dié reg te laat geld.
Daar is bykans twintigduisend skole in Suid-Afrika en slegs sowat 1 800 daarvan was voorheen Model C-skole. Nogtans dui die departement aan dat hierdie skole vir hervorming van hul taalbeleide geteiken word.
Die rede wat hulle aanvoer, is dat hierdie skole in veeltalige gebiede geleë is. Juis om hierdie rede voer die minister volgens mediaberigte aan dat Model C-skole nie geteiken word nie, maar bloot eerste in die ry staan.
Die argument verloor sy trefkrag as ‘n mens in ag neem dat dieselfde verslag stel dat die geleidelike implementering van Afrika-tale noodsaaklik is om leerders in voorheen benadeelde gemeenskappe se leerervaring te verbeter.
Hier is die sleutelwoord moedertaalgegronde tweetalige onderwys, aangesien daar nog baie ontwikkelingswerk met leermateriaal in Afrikatale nodig is.
Dit beteken die agtienduisend skole wat nooit Model C-skole was nie, behoort voorkeur te kry. Verder het die departement juis voor aanvaarding van die Bela-wet aangevoer dat toenemende veeltaligheid in townshipskole die rede is waarom die departement finale seggenskap oor skole se taalbeleid wou ontvang.
Die mees onlangse reaksie spreek van ‘n onderliggende vyandigheid teenoor enkelmedium Afrikaanse skole. Die voorlegging dui aan dat daar landwyd slegs 639 Afrikaans medium skole is en dat 274 daarvan Engels as medium van onderrig bygevoeg het.
Daar is geen manier waarop die oorblywende 365 Afrikaanse skole in ‘n funksionele stelsel die onderwys van nie-Afrikaanse leerders kan ondermyn nie.
Nogtans neem die voorsitter van die komitee, me. Joy Maimela, dit met die ongestaafde verklaring verder dat taalbeleid as hindernis vir toelating tot vorige Model C-skole aangewend word. Daarom verwelkom sy die departement se fokus op hierdie skole.
Dit is duidelik dat die ANC en eendersdenkende partye die demografie van die land as geheel, in elke skool vergestalt wil sien. Dit sluit die moontlikheid uit dat Afrikaners, of enige minderheidsgroep, onderwys as kulturele reg kan beoefen.
Tot dusver het Afrikaanse skole hulleself sorgvuldig uit politieke omstredenheid probeer hou. Dit het onder meer beteken dat daar geen begeerte was om artikel 235 van die Grondwet ter sprake te bring nie.
Hierdie benadering sal moet verander, want dit is die laaste wetlike hindernis teenoor ‘n regering wat Afrikaanse onderwys wil onderdruk.


