Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Bek-en-klouseerverbod nie op wetenskap gegrond

Die inperking van vee in dele van Noord-KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, lei maande reeds tot ekonomiese skade vir vleis- en melkboere. Dit het onlangs ‘n landwye probleem geword toe China ‘n verbod op Suid-Afrikaanse rooivleis geplaas het.

Die skade lê daarin dat melk van diere in ‘n afgesperde gebied dubbeld gepasteuriseer moet word. Beeste in ingeperkte gebiede mag ook glad nie verkoop word nie.

Kommersiële en bestaansboere in die ingeperkte gedeelte van KwaZulu-Natal kon sedert Februarie vanjaar nog geen dier verkoop nie. Dit lei tot die onwettige vervoer van diere en besmetting in ander provinsies.

Bek-en-klouseer is ‘n hoogs aansteeklike siekte onder beeste, waarvan Suid-Afrika eens op ‘n tyd vry was. Dit was die gevolg van inentings wat nougeset en landswyd gedoen is.

Oor die afgelope dekades het staatsveeartsenydienste, sowel as Onderstepoort Biologiese Produkte wat die entstof vervaardig het, grootliks verval.

Die belangrikste probleem is egter dat die streng maatreëls wat die departement van landbou ingestel het nie op wetenskap gegrond is nie. Terwyl bek-en-klouseer in die Noordelike Halfrond dodelik en rampspoedig vir die hele landbou-ekosisteem is, is dit nie in Suid-Afrika die geval nie.

Die minister van landbou, mnr. John Steenhuisen, het onlangs in ‘n skriftelike antwoord in die parlement bevestig dat geen beeste met die jongste uitbreking dood is nie en dat die siekte nie by enige skape of bokke bespeur is nie. Nogtans word alle hoefdiere deur die beperkings geraak.

Die probleem word vererger deur die hoë koste van entstowwe wat uit Botswana ingevoer word, hoewel Suid-Afrikaanse aanlegte wel in staat is om dit veel goedkoper te vervaardig. Akkreditasie is vir hierdie laboratoria die groot probleem.

Teen huidige pryse sal dit sowat R5.4 miljard oor drie jaar kos om die land weer van die siekte vry te stel. Selfs dit sal slegs tydelik wees, omdat buffels die siekte dra en beeste vryelik tussen Suid-Afrika en buurlande beweeg.

Die antwoord lê in naspeurbaarheid, strategiese enting, binnelandse vervaardiging en akkurate wetenskaplike inligting.

Sterker naspeurbaarheid sal sorg dat slegs plase wat direk geraak word, afgesper hoef te word.

Die belangrikste is egter dat ‘n siekte wat nie gevaarlik is nie, tans as ‘n hoogs gevaarlike potensiële ramp hanteer word. Suid-Afrikaanse owerhede sal die moeilike pad móét loop om die buiteland in te lig dat bek-en-klouseer in Suid-Afrika verskil van dit wat hulle ken.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.