‘n Holistiese vervoerplan is uiteindelik nodig om aan Suid-Afrika se behoeftes te voldoen aangesien openbare vervoer steeds baie gebrekkig is en sonder behoorlike planne deurgevoer word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Volgens adv. Alberts is ‘n goeie voorbeeld van die skewe beplanning die minister se geskrewe antwoord aan homself oor die sinvolheid van die e-tolstelsel waar die minister aangedui het dat e-tol motoriste sal dwing om gebruik te maak van openbare vervoer.
“In reaksie daarop moet ‘n mens vra: Watter openbare vervoer? Openbare vervoer vir die arm gemeenskappe is onveilig en amper nie-bestaande vir die middelklas en diegene in die platteland. Daar is ook ‘n nasionale vervoerreguleerder nodig om alle fooie te reguleer tot voordeel van die gebruiker.
“Deel van die uitdagings van die departement is die finansiering van vervoerprojekte, waarvan sommige die regering ernstige skade kan aandoen. Van hierdie probleme het ontstaan vanweë ‘n gebrek aan sinvolle beplanning en openbare konsultasie.
“E-tol is ‘n voorbeeld hiervan. Die peperduur stelsel is reeds voltooi, maar het geen legitimiteit in die oë van die publiek nie. Optrede van Sanral in die verband maak padgebruikers net meer vyandiggesind en dit kan vererger indien mense wel vervolg word.
“Daarbenewens moet gevra word waarom Sanral nog nie opgetree het teen konstruksiemaatskappye wat by samespanning betrokke was om die kostes van die stelsel se bouwerk op te jaag nie. Sanral kan ‘n aansienlike deel van sy uitgawes op die wyse terugkry, maar verkies om eerder op die publiek jag te maak.
“Die tweede probleem het ontstaan weens die wanbestuur van Transnet se pensioenfonds wat nou gelei het tot ‘n eis van by die R85 miljard teen Transnet en die regering. Sou die eis slaag, kan Transnet geen van sy beplande uitbreidingsprogramme voltooi nie. Daardie hofsaak begin aanstaande Maandag.
“Staatsinstellings is boonop nie eens in staat om sy eie wette behoorlik toe te pas nie en die VF Plus wil die minister vra om eers die basiese reg te kry voordat daar ambisieuse projekte aangepak word, soos die e-tol en AARTO, wat tot dusver net kaders en korrupte amptenare ryk gemaak het,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403