Die Gautengse premier, David Makhura, se droom van mega-stede sal ‘n hersenskim bly solank as wat die provinsiale regering die wanbestuur van munisipaliteite sienderoë ignoreer. Die distriksmunisipaliteite van Sedibeng en die Wes Rand is in hierdie opsig die grootste sondaars.
Die idee van mega-stede het reeds in 2005 ontstaan onder die leiding van die vorige Gautengse premier, Sam Shilowa. Die VF Plus se standpunt is nog altyd dat dienslewering so na as moontlik aan grondvlak moet wees. Metrorade en die beplande mega-stede sentraliseer mag en neem dienslewering verder weg van gemeenskappe en maak dit minder toeganklik.
Die onderprestasie en finansiële oorbesteding van die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA) is die direkte resultaat van verkwiste en onregmatige uitgawes van miljoene rand op provinsiale en munisipale vlak.
Die feit dat meer as 50% van die departement se begroting aan salarisse bestee word en nie aan dienslewering nie, is die grootste probleem. Die verskoning dat die meeste van die probleme waarmee die provinsie te kampe het van die vorige bedeling geërf is, is nie meer ‘n verskoning nie.
Die finansiële druk op gewone belastingbetalers om die groot vraag na behuising, dienslewering en verstedeliking te dra, is onrealisties en onvolhoubaar.
Makhura se droom vir die ontwikkeling van Gauteng moet hand-aan-hand loop met plaaslike munisipaliteite en metrorade se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) en begrotings ten einde enorme finansiële verliese op beide sfere van plaaslike regering te vermy.
Makhura het die keuse om voort te gaan om swak finansiële beplanning en dienslewering toe te laat of hy kan as hoof van die provinsie ingryp om sy drome te realiseer tot die voordeel van al Gauteng se inwoners.
Kontaknommer: 066 010 1053


