Dit is nie die regering se doel om werk te skep nie. Die doel van ‘n regering, ook dié van die Gautengse regering, is om ‘n gunstige klimaat te skep waarin ondernemings gevestig word en sodoende werk skep.
Entrepreneurs en beleggers is huiwerig om in Gauteng te belê juis vanweë rigiede arbeidswetgewing soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en Regstellende Aksie (RA) wat ‘n vernietigende effek het op die ekonomie.
Nog ‘n probleem in Gauteng is die betalingstelsel vir ondernemings wat werk vir die regering doen. Vir ondernemings om tussen 90 tot 120 dae te wag vir betaling, nadat werk vir staatstenders gedoen is, maak dit amper onmoontlik vir ondernemings wat afhanklik is van kontanvloei om te oorleef.
Die ekonomie van Gauteng sal net groei indien korrupsie uitgeroei word, rasgebaseerde wetgewing wat wittes uitsluit van die arbeidsmark uitgefaseer word en rompslomp wat ondernemings kniehalter, verslap word.
Die Gautengse regering moet deel van die oplossing wees wat ekonomiese groei aanbetref, en nie die probleem soos wat dit tans is nie.
Kontaknommer: 071 640 7283