Die kostes verbonde aan alledaagse vervoer is heeltemal te duur. Die publiek bestee ‘n te groot deel van hul inkomste aan vervoer wat in baie gevalle min geld oorlaat om van te leef. Suid-Afrika het daarom ‘n geïntegreerde en veilige vervoerstelsel dringend nodig.
Die regering het ‘n verpligting om ‘n behoorlike en bekostigbare vervoer-infrastruktuur te skep. Hiervoor is daar twee voorvereistes:
1. Die besluit om infrastruktuur te skep moet rasioneel, of werklik nodig wees.
2. Dit moet deur die publiek aanvaar word en regtens korrek hanteer word.
Daar is tans drie projekte in die departement van vervoer wat min steun van die publiek het, en nog twee wat in werklikheid onnodig is.
Die eerste is die Gautengse e-tolstelsel. Dit is onnodig en het geen steun nie. Dit het nou duidelik geword dat hierdie stelsel nooit geïmplementeer moes word nie. Die koste vir die snelweg-opgraderings kon befonds word deur te spaar op die staat se jaarlikse onreëlmatige besteding wat volgens die Ouditeur-Generaal (OG) tot meer as R60 miljard per jaar gestyg het.
Die feit dat meer as 70% gebruikers nie bereid was om e-tol te erken of te betaal nie, bevestig die onwettigheid daarvan.
Sanral is tans in litigasie met talle padgebruikers verstrengel. Dit is ‘n vermorsing van geld om 'n onwettige stelsel te verdedig. Daar is soveel regsfoute met die inwerkingstelling van die stelsel gemaak dat Sanral se kanse om dit te verdedig, skraal is.
Daar is byvoorbeeld tot dusver geen standaarde vir die e-tol instrumente gevestig nie en daar is nie voldoen aan die Wet op die Regsmetrologie nie. Daar is dus geen sekerheid oor die korrektheid van enige rekeninge sedert die stelsel in werking gestel is nie. Dit sal die regering loon om die stelsel so gou moontlik te skrap voordat dit ook soos met die huidige Transnet-pensioenarisse-skandaal in die staat se gesig ontplof.
Nog 'n stelsel wat misluk het, is Aarto. Dit is 'n goeie idee, maar het misluk tydens sy toetsfase in Gauteng. Padongelukke en sterftes het nie gedurende hierdie toetsperiode afgeneem nie. Die stelsel is dus nie gereed om landwyd geïmplementeer te word nie.
Die verskillende probleme met Aarto is uitgelig deur twee hofsake. In die saak van Fines4U teen die Padverkeersoortredingsowerheid (RTIA) is bevind dat amptenare van RTIA bevooroordeeld is omdat hulle nie vertoë aanvaar op grond van prosedure nie.
In Fines4U v JMPD is bevind die plaaslike regering se polisiëringseenheid het die magte en take van die RTIA oorgeneem. Dit was moontlik juis omdat die RTIA nie self bemagtig is om sy take uit te voer nie. Aarto moet dus eers in sy toetsfase werk voordat gedink kan word aan landwye implementering. Die alternatief is om eerder terug te val op die ou Strafprosesreg-stelsel.
Nog 'n ongeluk wat wag om te gebeur, is die Padongelukkefonds (POF). Die voorgestelde Padongelukvoordeelskema (POVS) sal die mediese en finansiële bystand wat deur eisers benodig word, ernstig beperk.
Die huidige stelsel misluk nie omdat dit inherent swak is nie, maar omdat dit nie die agenda van sekere persone in die fonds pas nie. POVS kan moontlik besparings vir die fonds teweegbring, maar dit sal ten koste van die eisers gebeur. Die belangrikste probleme in hierdie verband is:
• Dit sal die fondse beperk wat beskikbaar gestel word aan 'n persoon wat lewenslange versorging benodig.
• Die openbare gesondheidstelsel sal pasiënte nie die nodige sorg en rehabilitasie kan gee nie weens die swak diensvlakke van die openbare gesondheidstelsel.
Hierdie kwessies sal dringend aandag van die regering mot kry om groot toekomstige probleme en onnodige uitgawes te vermy.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216


