fbpx
Vryheidsfront Plus

Begrotingsdebat in NRP: Samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede – Plaaslike regering is ANC se klaaglikste mislukking

Die grootste van al die ANC-regering se mislukkings is sekerlik die haglike toestand van Suid-Afrika se munisipaliteite. Dienslewering het ineengestort en die meeste munisipaliteite is disfunksioneel, onvolhoubaar en sommige selfs bankrot.

Die drastiese toename in gewelddadige protes-aksies teen dienslewering is ‘n aanduiding daarvan dat die publiek ná 25 jaar vertroue in die ANC verloor het om diens te lewer of sy beloftes na te kom.

Een van die hoofredes vir die agteruitgang op plaaslike regeringsvlak is ‘n totale gebrek aan verantwoording, soos die Ouditeur-Generaal (OG) uitwys in sy verslag vir die laaste boekjaar. Munisipaliteite is traag om die OG se voorskrifte uit te voer, of dit word bloot geïgnoreer. Net 18 van die land se 257 munisipaliteite het met die laaste verslag ‘n skoon oudit gekry.

Ook kommerwekkend is die bedrag van R907 miljoen wat munisipaliteite bestee het aan konsultante om te help met die voorbereiding van hul finansiële state. Dit wys dat baie munisipaliteite amptenare in diens het wat nie bevoeg is om hul werk te doen nie en wat die gevolg is van Regstellende Aksie (RA) en kader-ontplooiing.

Samelopend met bedrog, korrupsie, swak skuldinvordering van nie-betalers en swak bestuurders in die voorsieningsketting, is dit duidelik waarom munisipaliteite nie geld oor het vir dienslewering nie.

Daar kom niks van ANC-beloftes om die probleme te behandel nie en kaders wat hulle aan vergrype skuldig maak, word bloot herontplooi. ‘n Voorbeeld is Noordwes se vorige premier. Onder sy leierskap het dienslewering ineengestort en die provinsie is onder administrasie geplaas. Hy is ‘beloon’ met ‘n pos as parlementslid en die voorsitterskap van ‘n portefeuljekomitee.

Die VF Plus hou vol met sy mening dat elke dorp sy eie munisipaliteite moet hê. Samesmeltings werk nie en maak die probleem net groter.

Die VF Plus het daadwerklike en toepaslike oplossings vir die probleme wat tans in plaaslike regerings ondervind word:

• Skaf rasgebaseerde RA af en stel amptenare slegs op meriete aan.
• Gebruik sosio-ekonomiese omstandighede as die voorwaarde vir bemagtiging en bevorder gelyke geleenthede vir almal.
• Skep ‘n regeringstelsel wat kleiner en meer plaaslik is.
• Gee groter outonomie aan provinsies.
• Sny staatsbesteding, privatiseer staatsinstellings, verhoog staatsinkomste deur groei te stimuleer, belastingverligting te bied en 'n fiskale kommissie te vestig;
• Prioritiseer infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding.

Suid-Afrika is by ‘n kruispad. Die huidige koers het reeds rampspoed gebring en gaan die land vernietig indien daarmee volhard word.

Kontaknommer: 079 885 1135

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.